Local newsNews

Kommer oor Tuinplaas-mynaansoek

Inwoners in en om Tuinplaas het met skok kennis geneem van beoogde mynbedrywighede in die omgewing.

Die Omgewingsbeskermingsagentskap (EPA) is bekommerd dat die openbare deelnameproses nie korrek plaasgevind het nie en dat ’n groot aantal belanghebbendes nie van die mynaansoek bewus is nie.

Die Pos het bykomende inligting van die EPA aangevra.

Volgens hul inligting is Singo Consulting (Pty) Ltd. aangestel om namens Mposi Grey Holdings ’n omgewingsimpakstudie in die omgewing te doen. ’n Openbare deelnameproses sou volg.

Die doel was om ’n chroommyn op die plaas Paay Zyn Pan 681 KR te vestig. Die grondgebied val onder die Dr. JS Moraka-munisipaliteit in Mpumalanga — 10 km vanaf die Lefiswane-, 11 km vanaf die Marapyane- en 37 km vanaf Siyabuswa-gebied.

Volgens die kaarte wat verskaf is, is die grondgebied baie naby aan die Waterberg-distrik se grense.

Inligting dui daarop dat die aansoeker ’n oopgroefmyn wil vestig in die uitgesette 5 ha grond op die plaas Paay Zyn Pan.

Die beoogde myn se uitskot sal opgehoop word en ’n bykomende pad gemaak word om die uitskot weg te voer. Die roete na die myn is vanaf die R516-pad na Tuinplaas en Settlers.

’n Konsultasieproses met belanghebbendes sou in Januarie plaasgevind het.

Die impakstudieverslag sou middel Februarie beskikbaar gewees het vir verdere kommentaar.

Die finale verslag om die aansoek goed te keur sal volgens die EPA na verwagting op Woensdag 16 Maart deurgegee word.

Navrae aan Singo Consulting is teen druktyd nie beantwoord nie. Die EPA sou hierdie week ’n aanlynvergadering met belanghebbendes gehou het.

Navrae oor die mynproses kan gerig word aan die EPA by retha@completenvironmental.co.za(.)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button