LettersOpinion

Brief: ‘Tannie, ek soek werk; nie geld’

Jy kyk my reguit in die oë en waai asof ons mekaar al jare lank ken.

Inwoner, Mookgophong, skryf:

Ek ry verby jou en ’n breë glimlag wys twee rye wit tande. Jy het ’n verbleikte rooi T-hemp aan jou skraal lyfie.

Ek kan nie jou ouderdom skat nie en besluit jy moet seker so 12 wees. Jou broek is ver te groot en te kort en ’n nylontou hou dit om jou heupe vas.

Waar is jou huis en wie moet na jou kyk? wonder ek. Wie het jou vir nege maande in haar buik gedra en jou met pyn die lewe geskenk? Wie se bloed vloei in jou are en wie se DNA sal jy vir ewig dra? Waar is die spermdraer wat jou gene bepaal het?

Hoekom is daar nie ’n lewensband tussen jou en jou verwekker nie?

Jy kyk my reguit in die oë en waai asof ons mekaar al jare lank ken. Die verweerde pet pas jou perfek, dink ek en ek glimlag terug.

“Hallo Tannie, ek soek nog werk,” skree jy uitgelate soos die kind wat jy moet wees.

Ek kry jou weer om die hoek waar ek parkeer.

“Tannie, nee man, ek kry nie werk nie. Help my met werk asseblief.”

Vir die tweede keer kraai die haan vir my.

Ek kyk op en stop maar weer ’n geldjie in jou hand net om my gewete te sus. Jy kyk my verslae aan en gee dit terug.

“Tannie, ek soek werk; nie geld nie.”

Ek kyk jou agterna en my kop begin druis as ek jou geboë skouertjies sien.

Skielik verskyn jou wit tande vir die vrou wat voor my parkeer en met ’n skewekop hoor ek jou sê:

“Tannie, ek soek werk asseblief.”

Dit is die laaste kraai vir my.

Related Articles

Back to top button