NewsSchools

Thabazimbi-redenaars is reg gebek vir raaksê

Die stemme is opgewarm, navorsing gedoen, toesprake geskryf en Thabazimbi se redenaars is slaggereed om vanjaar hul stemme dik te maak tydens die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV) se redenaarskompetisie.

Leerders van Hoërskool Frikkie Meyer en Laerskool Thabazimbi is hard aan die werk vir die redenaarskompetisie wat in April afskop.

Die interhuisredenaarskompetisie wat in Februarie afgehandel is, was reeds ’n aanduiding van die standaard wat vanjaar verwag kan word, het Melinda Doubell, organiseerder en afrigter van Laerskool Thabazimbi, gesê.

Temcke Zwiegelaar, een van die beoordelaars van die afgelope maand se interne redenaarskompetisies by die twee skole, het ná haar besoek gesê sy is opgewonde om te sien wat Thabazimbi-leerders vanjaar vermag.

Die gr. 10-12-wenners van Hoërskool Frikkie Meyer se redenaarskompetisie is Izandri Joubert (gr. 11), Ané Viljoen (gr. 11), Lieselotte Smit (gr. 12) en Cara Pieterse (gr. 12).

“Wat ’n verfrissende ervaring met sprekers wat ons nie net kom oorreed het nie, maar ons vermaak het met hul mondelinge kommunikasie en redenaarsvaardighede,” het sy opgewonde gesê. “Dankie Thabazimbi. Dit was lekker om by julle te beoordeel.”

Die ATKV-redenaarskompetisie gee leerders die platform om hul sê met selfvertroue in Afrikaans te sê en Thabazimbi se leerders is slaggereed vir die landwye kompetisie wat van Woensdag 6 April tot Saterdag 7 Mei duur.

Related Articles

Back to top button