Local newsNews

Thabazimbi-inwoners hou makietie

Familiepret en feestelikheid was die afgelope naweek aan die orde van die dag in Thabazimbi.

Thabazimbi het behoorlik uit sy nate gebars met besoekers wat by Marakele Nasionale Park saamgetrek het vir vanjaar se Marakele-marathon.

Inwoners kon ook die hele Saterdag ontspan en hulself geniet by die boeremark en mini-kerkbasaar in die dorp.

Die dorp was ’n miernes van bedrywighede en besoekers het hulle verstom aan die baie aktiwiteite wat aangebied is.

Gesinne het die prettigheid van ’n lekker boeremark en gesinsdag by ’n bekende koffiewinkel in die dorp baie geniet.

Thaba Fire & Rescue het ’n draai daar gemaak om vir die jongspan te wys hoe hulle vure blus en reageer op verskeie noodsituasies soos motorongelukke.

Daar was ook perderitte, stalletjies, heerlike eet- en drinkgoed en natuurlik samesyn uit die boonste rakke.

Die Afrikaanse Protestante Kerk (APK) in Thabazimbi het op hul kerkterrein ook gesorg vir hope pret met hul gebruiklike “mini-basaar.”

In die verlede was die APK-basaar een van die hoogtepunte op die dorp se kalender en die afgelope naweek was dit duidelik dat inwoners met afwagting uitgesien het na die joligheid.

Met smullekker kos, tafels wat knak onder heerlike tuisgemaakte produkte, kinders wat op die grasperke baljaar en vermaak word, is die besoekers wat oral onder koeltebome saamkuier getrakteer op Bosveld-gulhartigheid.

Die kersie op die koek, of in die geval “die tjoppie op die kole,” was die vleisverkope. Die gemeentelede span elke jaar kragte saam om puik kwaliteit vleis te bewerk en gereed te kry vir die basaar se vleistafels.

Die tafels het weer vanjaar gekreun onder die keur vleissnitte wat teen bekostigbare pryse aangebied is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button