LettersOpinion

Brief: Dinge begin weer lekker raak …

Die vasberadenheid en genot op die atlete se gesigte is waar my lekkerkry (en verligting) lê.

Mariette Nicholson, Modimolle, skryf:

“Mam, dit is awesome om hier te wees — hier is so baie mense!” “Een van die skole het nou-net Jam-blikke-visblikke gesing, maar ons kreet was die beste.”

Ek hoor die lag in sy stem. “Mam verstaan nie — hier is so baie mense wat vir ons kyk! Alles is net lekker!

Wag, ek moet nou bye sê, want die ouens wag vir my vir die spanpraatjie op die pawiljoen.

O ja, ek het ’n eerste plek gekry vir gewigstoot,” sê my wildekuiken-koshuiskind toe hy my verlede week vanaf die Ruimsig-atletiekstadion in Johannesburg bel.

Die Vrydagmiddag koop ek die weeklikse uitgawe van Die Pos-koerant by die hoekkafee hier naby my huis — nie net omdat ’n ma van my ouderdom dit nie kan waag om plaaslike nuus mis te loop nie, maar ook omdat die voorblad my kinderlik opgewonde maak.

’n Foto van atlete wat hul “vere regskud vir die Bosveld Interhoër” pryk op die voorblad. Ek voel so opgewonde soos ’n skooldirigent met nuwe danspassies.

Ek blaai deur die koerant en daar is bladsye propvol sportfotos (mét toeskouers) van atlete wat weer met volle oorgawe deelneem en hul beste by sportbyeenkomste gee.

Die prestasies is irrelevant.

Die vasberadenheid en genot op die atlete se gesigte is waar my lekkerkry (en verligting) lê.

Dankie tog daar is weer ’n mate van normaliteit wat stadigaan terugkeer ná die chaos (en afsondering) waarin ons die afgelope twee jaar geleef het.

Dit is duidelik: Ons kinders is dankbaar om weer deel te neem en om gesién te word.

 Mag ons in ons massas opruk om weer vir hulle te gaan kyk sodat dinge net weer lekker kan wees.

Related Articles

Back to top button