LettersOpinion

Brief: Verhoging in minimumloon slegte nuus vir werkloosheid

Dit is tragies dat kwesbare werkers soos huis- en plaaswerkers, op wie hierdie minimumloon van R23,19 ook van toepassing is, veral hieronder sal ly.

Heloïse Denner, Vryheidsfronf-Plus (VF-Plus)-LP en hoofwoordvoerder: Arbeid, skryf:

Die verhoging van 6,9% van die nasionale minimumloon wat die departement van indiensneming en arbeid pas bekend gemaak het en wat van toepassing sal wees vanaf Dinsdag 1 Maart sal die reeds rampspoedige werkloosheidskoers net verder laat styg.

Billike vergoeding vir werk gelewer moet ’n gegewe wees, maar vasgestelde en voorskriftelike arbeidswetgewing smoor die privaatsektor en veral kleinsake-ondernemings se groei.

Werknemers en werkgewers moet toegelaat word om oor lone te onderhandel en ooreen te kom in ag genome bekostigbaarheid en ander faktore soos werksure, die soort werk wat verrig moet word en ander faktore wat op ’n individu van toepassing is.

Waar vasgestelde lone afgedwing word, sal werkgewers genoop word om dié werkers wat hulle nie meer kan bekostig nie, af te lê en dit sal tot ’n groter werkloosheidskrisis in die land lei.

Groter werkloosheid sal lei tot verdere maatskaplike probleme soos ’n toename in misdaad, toenemende druk op die regering en ander vergrype.

Dit is tragies dat kwesbare werkers soos huis- en plaaswerkers, op wie hierdie minimumloon van R23,19 ook van toepassing is, veral hieronder sal ly.

Baie huishoudings gaan juis weens die gevolge van die Covid-19-pandemie en ander faktore gebuk onder toenemende finansiële druk.

Talle ondernemings kon nie verhogings toeken nie, huishoudings se skuldlas het gestyg en verdere druk op private huishoudings sal tot afleggings en verminderde werksure en dus verminderde inkomste van huiswerkers lei.

Die verhoging van die minimumloon vir plaaswerkers is eweneens ontydig en ondeurdag in ag genome die huidige ramptoestand wat regoor die land weens vloede en ander skade heers.

Die landbousektor het geweldige skade gelei weens hierdie verskynsels wat reeds tot minder werksgeleenthede in die landbousektor sal lei. Verhoogde finansiële druk sal die situasie net vererger.

Related Articles

Back to top button