Local sportSport

Vere reggeskud vir langverwagte Bosveld Interhoër

Die topatlete is gekies, die sangers skud hul vere reg en bykomende voorbereidings is getref vir die 58ste Bosveld Interhoër-atletiekbyeenkoms wat op Saterdag 26 Februarie by Hoërskool Piet Potgieter in Mokopane aangebied word.

Dit is vir die gasheerskool ’n voorreg om dié dag vir die Bosveld se beste atlete aan te bied nadat die interhoër in 2021 weens die Covid-19-pandemie gekanselleer moes word.

Daar is aanvanklik tydens ’n onlangse hoofdevergadering by Hoërskool Nylstroom beraadslaag of toeskouers vanjaar toegelaat mag word of nie. Ingevolge die huidige vlak 1-inperkingsmaatreëls mag daar 2 000 mense by buitemuurse byeenkomste wees en 1 000 mense by binnenshuise geleenthede.

Daar is aanvanklik besluit dat geen toeskouers die interhoër mag bywoon nie, maar tydens verlede week se vergadering is besluit om beperkte toeskouers volgens streng voorwaardes toe te laat.

Michelle Buitendag, Hoërskool Piet Potgieter se skakelpersoon, het by navraag gesê belangstellendes en ouers sal wel die kans gegun word om die aksie te ervaar.

“Lyste is vroeër aan die onderskeie skole gestuur om aan te dui hoeveel mense die geleentheid sal bywoon. Die getal toeskouers is steeds beperk tot 2 000, wat nie die atlete, sangers en baanbeamptes insluit nie,” het sy gesê.

“Niemand sal op die dag toegang by die hek kan verkry as hulle nie reeds vooraf by hul onderskeie skole plek bespreek het nie. Dié maatreël is getref sodat register gehou kan word van die besoekers. Mense se temperatuur sal op die dag geneem word en die Covid-19-maatreëls sal streng gevolg word. Die organiseerders sal nie huiwer om op te tree indien die veiligheidsmaatreëls oortree word nie. Ons is tans besig met finale kontrole-reëlings en is slaggereed om die besoekers Saterdag te ontvang.”

Die skole wat Saterdag deelneem sluit in Hoërskole Ben Viljoen, Nylstroom, Warmbad, Ellisras, Piet Potgieter, Frikkie Meyer en Hans Strijdom.

Elke skool mag slegs 100 sangers na die byeenkoms stuur om hul atlete van die pawiljoene af aan te moedig en om die bekende interhoër-gees lewendig te hou.

Skole het aangedui dat hul atletiekspanne uit 120 tot 140 atlete bestaan. Die sportorganiseerders en skakelbeamptes van elke skool het gesê hulle atlete sien uit na die byeenkoms en dat die gesonde mededinging tussen die skole die atlete sal aanmoedig om hul beste prestasies te lewer.

Hoërskool Ellisras het in 2019 en 2020 die interhoër gewen.

Belangstellendes wat nie die geleentheid gekry het om betyds hul kaartjie vir die byeenkoms te koop nie, kan die webtuiste: www.backsports.co.za besoek.

Die byeenkoms sal regstreeks op die platform uitgesaai word en die koste beloop R100 om in te teken.

Die tye van elke item is op die web- tuiste beskikbaar.

  • Die atlete en afrigters van Hoërskool Frikkie Meyer het die afgelope paar maande hard geoefen ter voorbereiding en hulle hoop om vanjaar die geskiedenisboeke te herskryf. Die Frikkies se sangatlete, wat die atletiekspan vergesel, is reg om die geesdrif en spangees op die pawiljoen lewendig te hou.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button