Local newsNews

Modi-vliegveld kry die wind van voor

Die vliegveld in Modimolle, wat as ’n privaat vliegveld bedryf word, gaan gebuk onder toenemende probleme omdat informele behuising, deel van die immer groeiende Phagameng-township, reg langs die aanloopbaan opgeskiet het.

Daarmee saam is die toename in diefstal en vandalisme by die vliegveld en vliegtuigskure ’n groot bron van kommer.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het aan Die Pos verduidelik dat die Modimolle-vliegveld aan die plaaslike owerheid behoort wat dit gratis tot beskikking van die gemeenskap stel.

“Daar is met die Nylstroom-vliegklub en belanghebbendes ooreengekom dat hulle die instandhouding van die aanloopbaan en perseel sal behartig. Die vliegtuigeienaars moet ook die nodige veiligheidsmaatreëls tref by die vliegtuigskure. Ongelukkig beskik die munisipaliteit nie oor die geld om die hele vliegveld te omhein nie,” het sy gesê.

Die munisipaliteit het in Februarie 2017 ’n tussentydse hofbevel bekom om die onwettige grondbesetters te keer wat hul intrek langs die vullisterrein oorkant die vliegveld geneem het.

Die aantal huise het intussen net toegeneem wat beteken dat baie mense, asook beeste en donkies, oor die vliegveld beweeg.

Die vliegveld in Modimolle het die afgelope paar jaar vinnig agteruitgegaan omdat informele behuising, deel van die immergroeiende Phagameng-
township, reg langs die aanloopbaan opgeskiet het. Dié lugfoto toon die stofpaaie wat kruis en dwars oor die aanloopbaan strek. Kinders speel ook orals langs die aanloopbaan waar beeste en donkies bedags wei.

Jaco van Zyl (60), wat die afgelope 17 jaar lid is van die Nylstroom-vliegklub, het aan Die Pos gesê hulle hou deurgaans die aanloopbaan en perseel in stand.

Die gras word gereeld gesny en hulle herstel self enige slaggate op die aanloopbaan.

“Privaat vliegtuig- en helikoptereienaars het destyds die vliegtuigskure en die omheining om die skure opgerig. Daar is tans nege vliegtuigskure met kameras en alarmstelsels, maar voorvalle van diefstal neem steeds toe,” het hy gesê.

Van Zyl het voortgegaan:

“Ons het reeds heelwat geld hier belê en beoog om by die Modimolle-vliegveld te bly.” Hy sê buiten die vliegveld in Bela-Bela, is daar nie nog so ’n goeie aanloopbaan in die Waterberg-omgewing soos die een in Modimolle nie. “Toe daar nog destyds spoggerige wildveilings in die dorp gehou is, het talle boere hierheen gevlieg. Die vliegveld word ook deur medici benut en daar is tans ’n oogspesialis en sy span wat elke tweede week hierheen vlieg om pasiënte te konsulteer.”

’n Jarelange inwoner van Modimolle en kranige vlieënier van ’n mikroligte vliegtuig, wat verkies om anoniem te bly, het aan Die Pos gesê hy moes ná 23 jaar afskeid neem van die vliegveld in Modimolle en sal voortaan van Bela-Bela se vliegveld gebruik maak.

“Dit is voorwaar ’n hartseer dag, maar die toenemende diefstal is net te erg. Daar is ook te veel mense, donkies, beeste en voertuie wat kruis en dwars oor die aanloopbaan beweeg,” het hy gesê.

Richard Nicholson, eienaar van Benchmark Aviation-vliegskool, het aan Die Pos vertel dat hy sedert 2007 in Modimolle gevlieg het.

“Ek moes noodgedwonge die vliegskool, wat in 2010 gestig is, in Oktober 2020 na Bela-Bela se vliegveld verskuif. Ek het oor die jare talle studente verloor weens die probleme met veiligheid in Modimolle,” het hy gesê.

Hy het ook vertel dat groter vliegtuie slegs in Modimolle kan land en nie by Bela-Bela se vliegveld nie.

“Die Nylstroom-vliegklub is een van die oudste klubs in Limpopo. Dit is dus belangrik dat dit nie tot niet gaan nie.”

AfriForum het in November 2021 bekendgemaak dat hulle ’n nuwe projek gaan loods om sekere vliegvelde en klein lughawens van algemene verval te red.

Volgens Deon Steyn, lugsteunbestuurder by AfriForum, maak dit meer sin om bestaande vliegvelde en die infrastruktuur wat daarmee saamgaan, op te knap en te bewaar as om nuwes op te rig.

Van die vliegvelde wat onder AfriForum se aandag gekom het, is by Harrismith, Vryburg en Modimolle.

Steyn sê plaaslike munisipaliteite gee nie meer aandag aan hierdie vliegvelde nie en dit word later gebruik vir enigiets van (informele) behuising tot weiveld, wat ook die geval is by Modimolle se vliegveld.

  • Inwoners van die Waterberg kan regskuif vir ’n opwindende naweek vanaf Vrydag 1 Julie tot Sondag 3 Julie, wanneer die jaarlikse lugskou, bekend as die Taildraggers Fly Inn, in Bela-Bela plaasvind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button