CrimeNews

Gemeenskap dreig met xenofobiese geweld ná beweerde verkragting

’n Groep woedende Bela-Bela-inwoners wou die afgelope week reg in eie hande neem nadat ’n 11-jarige meisie glo op Woensdag 2 Februarie in die Bela-Bela-township verkrag is.

Volgens sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, het die voorval glo teen ongeveer 15:00 die dag by ’n plaaslike winkel afgespeel.

Jongmense gaan gereeld na dié perseel om videospeletjies te speel.

Volgens die polisie word daar beweer dat ’n 24-jarige man glo die meisie gedwing het om agter te bly nadat die jongmense die perseel verlaat het en dat hy haar daarna verkrag het.

Die beskuldigde is ’n buitelander.

Die man is op Vrydag 4 Februarie in hegtenis geneem en aangekla van verkragting.

Die Bela-Bela-landdroshof het hom die week daarna vrygelaat nadat dit aan die lig gekom het dat sekere mediese uitslae nie by die hof ingedien is nie.

Die saak is later na die distriksaanklaerskantoor vir verdere beslissing verwys, het Maponya gesê.

Ontstoke inwoners was kwaad oor die man se vrylating en boodskappe is op sosiale media uitgestuur waarin mense aangehits is om buitelanders se sakeondernemings te teiken.

Kol. Abel Phetla, stasiebevelvoerder, het intussen van die ontstoke inwoners te woord gestaan en gehelp om gemoedere te kalmeer.

Maponya doen ’n beroep op die gemeenskap om hulle daarvan te weerhou om geweld teen buitelanders aan te hits of by sulke voorvalle betrokke te raak.

’n Soortgelyke voorval het onlangs in Thabazimbi plaasgevind waar ’n buitelandse winkelier van verkragting op ’n minderjarige meisie beskuldig is en dit tot openbare optredes in die dorp gelei het. Alle aanklagte is later teen die man teruggetrek.

  • Die polisie in Bela-Bela ondersoek ook ’n moordsaak nadat die oorskot van ’n man op Woensdag 2 Februarie in die Tweefontein-omgewing buite die dorp gevind is.

    Volgens Maponya is die lyk deur ’n plaaswerker gevind.

    ’n Staalpen, wat glo gebruik is om die oorledene dood te slaan, is by die liggaam gevind.

    Die oorledene se skoene is ook in die veld gevind wat ’n verdere aanduiding is dat daar ’n onderonsie plaasgevind het, het Maponya gesê. Die oorledene se identiteit is nog onbekend.

    Ondersoekwerk dui voorlopig daarop dat sy naam Abel was en dat hy ’n plaaswerker van Mosambiekse afkoms was.

    Enigiemand met inligting oor die oorledene of die voorval, word gevra om die polisiestasie te kontak by tel (014) 736 9760 of die ondersoekbeampte by tel. (014) 736 9713.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button