Local newsNews

Nuwe NG-leraar verwelkom

Die NG-gemeente Warmbad-Wes het op Sondag 6 Februarie hul nuwe leraar, ds. Riaan Odendaal en sy vrou Jacqueline, verwelkom.

Odendaal se intreepreek het gehandel oor “die waarheid” — soos vervat in Handelinge 8.

Hy het tydens ’n gesprek met Die Pos gesê hy en sy vrou het groot waardering vir die gul ontvangs wat hulle gekry het.

Hy sê die warm harte van die Bosvelders is uniek.

Hy was voorheen leraar van die NG-gemeente Waterberg in Modimolle.

“Ek dink elkeen het ’n roeping in die lewe; nie net dominees nie. Dit is hoekom ek my intreepreek gebaseer het oor om te gaan waar die Here ’n mens nodig het,” het hy gesê.

“Ek wil graag ’n pad saam met die gemeente met vernuwende denke stap. Mense moenie die sogenaamde konserwatiewe gebruike van kerke met ’n stagnerende leefstyl verwar nie. Ek wil nie verandering afdwing nie, maar ek luister graag na nuwe, innoverende idees.”

Hy het gesê hy wil graag fokus op interkerklike verhoudings.

Jacqueline se eerste indruk van Bela-Bela is dat die mense baie gasvry en vriendelik is en hulle met oop harte ontvang het. Dit voel vir haar vreemd of as “mevrou dominee” bekend te staan.

“Daar waar Riaan gaan, gaan ek en waar ek gaan, vergesel hy my. Ons werk goed saam,” het sy gesê.

Sy is ’n voedselwetenskaplike en dosent wat gereeld tussen Pretoria en Bela-Bela reis.

Die egpaar sien daarna uit om deel te word van die Wes-gemeente en die Bela-Bela-gemeenskap.

“Hierdie is die begin van ’n lekker pad saam,” het Odendaal gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button