Local newsNews

Brand verwoes twee werkwinkels in Modimolle

Die brand wat op Vrydag 4 Februarie laatmiddag in Van Riebeeckstraat 62 in Modimolle uitgebreek het, het twee werkswinkels in puin gelaat.

Volgens ooggetuies is rook kort ná 17:00 opgemerk waarna die nooddienste ontbied is. Die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD) was vinnig op die toneel om die straat af te sper en te keer dat lede van die publiek die perseel betree.

Lede van die gemeenskapspolisieringsforum (GPF) het ook bystand verleen.

Die Pos het met Jacques Roos (52), eienaar van Nyl Brake & Clutch, gepraat oor die verwoestende brand wat sy hele werkswinkel in puin gelê het.

Op die foto is die verwoesting by Nyl Brake & Clutch se werkswinkel in Modimolle duidelik sigbaar ná die brand wat op Vrydag 4 Februarie daar ontstaan het. Foto: Sarita Kriek-Vosloo

Hy vertel: “Ek het om 17:25 ’n noodsein van Jumas Sekuriteit se alarmsisteem ontvang. Toe ek, via die internet, op die veiligheidskameras kyk, het ek rook en vlamme by die groot staaldeur van die werkswinkel sien uitborrel. Ek het dadelik vir Hein Vermaak, eienaar van die gebou, gebel om te gaan ondersoek instel. Intussen het ek van my huis in Bela-Bela gejaag om daar te kom.”

“Ek het op die hakke van die brandweer daar opgedaag en gesien hoe die vlamme besig was om my hele werkswinkel te verswelg,” het hy gesê.

Volgens ooggetuies het die plaaslike brandweer omstreeks 18:00 by die perseel opgedaag met een van die nuwe brandbestrydingsvoertuie, asook ’n ouer voertuig wat water voorsien het.

Volgens Dan Mokonyane, brandweerhoof, is die nuwe voertuie se waterhouvermoë slegs 3000 liter en moet dit aan ’n brandkraan gekoppel word om ’n brand te kan blus. Ongelukkig was daar geen brandkrane in die nabye omgewing nie en kon die brandslang nie gekoppel word nie.

Jumas Sekuriteit se reaksievoertuig was omstreeks 18:05 op die toneel, maar kon ongelukkig nie die perseel betree nie weens veiligheidsredes.

Twee ambulanse het ook op die toneel opgedaag, maar gelukkig is niemand in die brand beseer nie.

Vermaak (61), eienaar van Auto Cool wat reeds 38 jaar in Modimolle sake doen, het aan Die Pos gesê dat hy omstreeks 17:45 op die toneel was en gesien het hoe die vlamme by Nyl Brake & Clutch se werkswinkel al hoe groter word.

Hy en Jerry Mokanyane (’n werker) het dadelik die vyf voertuie wat in sy werkswinkel geparkeer was, na veiligheid gebring.

Ongelukkig kon die ander voertuig, wat aan een van hul kliënte behoort, nie gered word van die vlamme nie.

“Omliggende sakelui het aanvanklik probeer help om die brand met brandblussers te bestry, maar die brand het te vinnig versprei. Ek het gesien hoe die brand binne minute na my werkswinkel oorbeweeg,” het Vermaak gesê.

Vermaak het gesê daar is nie een enkele onderdeel wat gered kon word nie – alles het gesmelt in die intense hitte.

“Selfs die gebou se staalstruktuur het gebuig,” het hy gesê.

Die lugverkoelers wat die naaste aan die oorsprong van die brand gestaan het, het heeltemal gesmelt. Die industriële koelkaste en ysmasjiene van kliënte moet almal afgeskryf word.

Daar is op Maandag 7 Februarie met opruimingswerk begin.

Opruimingswerk by Auto Cool het reeds op Maandag 7 Februarie begin ná die verwoestende brand wat Vrydag 4 Februarie by ’n aangrensende gebou uitgebreek het. Foto: Sarita Kriek-Vosloo

Vermaak het aan Die Pos gesê die geboue is verseker, maar hulle moet wag vir die finale verslag om te bepaal wat die oorsaak van die brand was. Hoewel die polisie enige brand as ’n misdaadtoneel benader en die moontlikheid van brandstigting ondersoek, meen Vermaak en Roos dat die voorafgaande beurtkrag waarskynlik ’n elektriese kortsluiting veroorsaak het.

“Elke keer wanneer die kragtoevoer weer aangeskakel word ná beurtkrag, is daar ’n geweldige groot kragstuwing wat maklik ’n kortsluiting kan veroorsaak — veral as die kabelnetwerk en ringvoerders verwaarloos is,” het hulle verduidelik.

Vermaak het voorts gesê: “Dit kan nie altyd net goed gaan nie. Die Here gebruik hierdie soort omstandighede om ’n mens in die bek te ruk. Ek is dankbaar vir my vrou, Retha, se onderskraging, asook my getroue werkers, sakelui en lojale kliënte se begrip vir ons situasie. Ons sal weer skouer aan die wiel sit en van voor af begin.”

Roos, wat die perseel reeds die afgelope 34 jaar by Vermaak huur, het aan Die Pos gesê dat Vermaak sy jarelange mentor en steunpilaar is.

“Hoewel ek bykans alles verloor het, gaan ek nie bly lê nie. Teen volgende week is ek weer volstoom aan die gang,” het ’n vasberade Roos gesê.

Related Articles

Back to top button