Local newsNews

Kaalvoet oor die Waterberg (en terug)

Peter Calcott (18) is ’n vasberade jong man wat 115 km binne vier dae afgelê het — kaalvoet.

Hierdie kaalvoetstaptog oor die Waterberg-plato was om in sy voorvaders, wat oor ses generasies strek, se voetspore te stap.

Die staproete het op Dinsdagoggend 18 Januarie aan die beginpunt van die historiese Tarentaalpas (ook bekend as Tarentaalstraat) noord van Alma begin.

Hy het net water en padkos met hom saamgedra vir die ongeveer 30  km wat hy elke dag afgelê het.

Hier swem Peter Calcott saam met sy twee sussies, Lucy en Rachel, op dag vier in die yskoue rotspoele naby die eindbestemming, SwebeSwebe-wildreservaat.

Die roete het verby Geelhoutkop, ’n bekende uitkykpunt wat gedurende die Anglo-Boere oorlog deur genl. Christiaan Beyers gebruik is om die Britse troepe dop te hou, gegaan.

Daarna het Calcott tot by 24 Riviere gestap waar een van sy voorsate, Ted Davidson, destyds geboer het. Hy het in die familieplaasopstal, wat oorspronklik in 1910 deur Davidson gebou is, oornag.

Dag twee (Woensdag 19 Januarie) van die staproete het gestrek oor Bellevue en Boschdraai, albei plase waar sy oupa, Charles Baber, van 1950 tot 1990 met onder meer tabak geboer het.

Met dapper en stapper is Peter Calcott (18) gereed om die laaste skof aan te pak op Vrydag 21 Januarie (dag vier). Hy het net water en padkos met hom saam gedra vir die ongeveer 30 km wat hy elke dag afgelê het.

Van daar het hy deur die Waterberg Living Museum en Summerplace-wildreservaat gestap. Hy het tot by Ant’s Nest & Ant’s Hill gestap en daar oornag. Dit vorm deel van ’n wildreservaat wat deur Ant Baber, ’n lid van die uitgebreide Baber-familie, geskep is.

Op dag drie (Donderdag 20 Januarie) het Calcott onbekende terrein betree in die rigting van die Nyati Wildernis — sowat 6 000 ha ongerepte Bosveld-natuur waar die Groot 5 tuis is.

Hy het aan Die pos vertel dat die blase op sy voete daar baie ongemaklik begin raak het op die vuurwarm grond en rotse.

Die laaste skof van die vierdagtog het op Vrydag 21 Januarie, ’n snikhete dag in die Bosveld, aangebreek.

Calcott het ’n ou bergpas genaamd Brown’s Cutting se kronkelpaadjies gevolg met pragtige uitsigte oor die Waterberg tot by SwebeSwebe-wildreservaat, die tuiste van Ken Maud (stigter van Waterberg Tourism) en sy vrou, Elizabeth Hunter.

Op pad daarheen het sy susters, Lucy en Rachel Calcott, by hom aangesluit vir ’n welverdiende piekniek langs die rotspoele waarin hulle later heerlik kon afkoel.

Die Pos het met Juliet Calcott (Peter se ma) gesels oor die ryk kultuurhistoriese geskiedenis van die Waterberg. Sy gee klas in Engels en geskiedenis by Waterberg Academy in Vaalwater.

Sy vertel: “Die historiese roete volg die geskiedenis van my pa, Peter se oupa, Charles Baber en sý oupa, Ted Davidson, een van die vroegste pioniers in die Waterberg.”

Tarentaalpas is volgens historiese geskrifte reeds voor 1900 deur plaasboere in die Vaalwater- en Melkrivier-omgewing, asook verder noord, gebruik om Nylstroom (nou Modimolle) te bereik.

Voorheen kon die Waterberg-plato slegs via Sandrivierspoort (naby waar Vaalwater later gestig is) bereik word. Dit is daar waar Ted Davidson, verbonde aan die Waterberg-Noord-boerevereniging, ’n veldtog geloods het vir die verlenging van die spoorweglyn tot in Vaalwater.

Dit het gelei tot die stigting van Vaalwater in 1925, destyds die enigste dorp op die Waterberg-plato. Daarmee saam is die bou van paaie, asook die moontlikheid van telefoonlyne vir hierdie omgewing, versoek en opgerig.

Deel van Peter se doel met die staptog was om geld in te samel om ’n spesiale jaarkursus te volg wat gefokus is op karakterontwikkeling en lewensvaardighede.

Hy het op Woensdag 26 Januarie vertrek na Kaba Valley in die Oos-Kaap om aan te meld vir hierdie kursus.

Gaan kyk gerus op Facebook of Instagram (barefootacrosstheberg) na nog foto’s van hierdie merkwaardige staptog.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button