MunicipalNews

Slaggate bly ’n groot bron van frustrasie

Wanneer ’n mens deur die strate van Thabazimbi ry, moet jy soms goed mik om uit die talle slaggate te bly.

Die Pos het op ons voorblad van Vrydag 7 Mei 2021 berig oor die drastiese agteruitgang van die dorp en omliggende dorpe se paaie.

Nege maande later lyk dié kommerwekkende prentjie nog erger. Ontstoke inwoners het hulle intussen tot sosiale media gewend om hul misnoeë met die situasie uit te spreek.

Die een vraag wat herhaaldelik opduik, is: “Wanneer gaan die munisipaliteit iets aan die paaie doen?”

’n Gefrustreerede ouer skryf:

“Wanneer ek my kind by die skool gaan oplaai, moet ek besluit of ek Judith-, Naomi-, Michael- of Deenastraat om wil ry en dit is elke dag ’n stryd om my voertuig heel anderkant uit te kry.”

Boonop het die onlangse reën in die dorp verskeie gate en slote, soos dié voor Villa Solitine (Naomistraat) verspoel en gevolglik word die gate net dieper.

Die Pos het in Desember 2021 navraag gedoen oor hierdie en ander munisipale probleme en volgens Tokkie Swanepoel, burgemeester, is ’n tekort aan hulpbronne en geld die grootste struikelblok vir die Thabazimbi-munisipaliteit.

Sy het die publiek egter probeer gerusstel dat alle dienslewering, ten spyte van tekortkominge, steeds onverpoosd sal voortgaan.

Die Pos het die afgelope week weer besoek afgelê by die reuseslaggat in Judithstraat, wat op 7 Mei se voorblad was.

Foto’s toon dat dié slaggat steeds daar is, maar nou aansienlik groter is. Wat het dan die afgelope nege maande gebeur?

Die munisipaliteit is genader met vrae oor dié probleem, maar teen druktyd is geen antwoorde verskaf nie.

Inwoners kan die volgende nommers skakel om foute en probleme aan te meld:

  • Munispale kliëntedienslyn: 060 961 3719
  • Waterdienste: 083 703 2805
  • Elektriese dienste: 083 703 2804
  • Thabazimbi-verkeersdepartement: 083 687 1883
  • Brandweer: 082 551 4204
  • Rampbestuur: 082 079 9335
  • Thabazimbi-begraafplaas: 064 090 1678 of 076 499 5628
  • Vullisverwyderingsdienste: 071 985 7516 of 063 017 8288

Die volgende nommers kan geskakel word om kontak te maak met een van die TLM-satelliet kantore:

  • Rooiberg: 082 658 3593
  • Northam: 082 658 4607
  • Leeupoort: 082 658 2477
  • Waarnemende satellietkantoorbestuurder: 079 896 2071

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button