CrimeNews

Fietsryer sterf by gevaarlike kruising

’n Tragedie het op Woensdagoggend 19 Januarie op die kruising by die ATKV Klein-Kariba-vakansieoord en die Eersbewoond-pad buite Bela-Bela afgespeel toe Susan Dannler (54) op haar fiets deur ’n voertuig getref is.

Volgens inligting van die Bela-Bela-polisie het die ongeluk ongeveer 06:45 plaasgevind.

Dannler en haar sielsgenoot, André van den Berg, het oudergewoonte vroegoggend vir oefening met hul fietse gaan ry.

Die paartjie woon sedert 2021 by die Hideway-landgoed op die Eersbewoond-pad.

Volgens die polisie het die paartjie in die rigting van Modimolle gedraai toe ’n aankomende voertuig, ’n Volkswagen Polo, Dannler se fiets getref het.

Die polisie wou nie meer inligting oor die ongeluk bekend maak nie omdat die ondersoek nog nie afgehandel is nie.

Dannler het ernstige beserings opgedoen en is op die toneel deur plaaslike dokters en weldoeners bygestaan. Sy is per ambulans na die Phodi Clinic in Bela-Bela gehaas, maar het later die oggend aan haar beserings beswyk.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Philip van den Heever, mede-eienaar van Hideaway, was diep geskok toe die nuus hom bereik het.

“Haar dood laat ’n groot leemte. Ons as eienaars dink veral aan André, hul kinders en kleinkinders in hierdie hartseer tyd.”

Van die inwoners van Hideaway het haar beskryf as iemand wat vol vreugde en liefde was. Sy was energiek en haar lewenslus het uitgestraal.

In ’n boodskap aan Die Pos het ’n inwoner van Hideaway gesê:

“Waar sy geloop het, het sy sonskyn gebring. Sy is skielik weggeruk na ons Hemelse Vader en dit maak ons hartseer, want ons sonskyn is nou weg.”

Dannler (voorheen Buys) is in Johannesburg gebore. Sy het haar skoolloopbaan by Laerskool Burgershoop begin en haar skooljare by Hoërskool Jeugland in Kempton Park afgesluit.

Sy is in 1987 met Steve Dannler getroud en hulle het twee kinders gehad. Dannler het ’n loopbaan in verpleegkunde begin, maar het later vir Eskom by die Duvha-kragstasie gewerk.

Steve is vroeër oorlede. Sy het Van den Berg in 2006 ontmoet en hulle was sedertdien onafskeidbaar.

Haar familie het in reaksie gesê sy het diep spore in mense se harte getrap. Sy was geesdriftig oor die lewe en het fietsry as stokperdjie baie geniet.

“Met André se liefde, ondersteuning en aanmoediging, het sy verskeie toekennings vir fietsry verwerf. Dit het haar passie aangevuur en sy het gereeld geoefen,” het ’n familielid gesê.

“Sy was baie lief vir André en haar kinders. Haar kleinkinders het vir haar alles beteken. Fietsry en koekies bak vir haar kleinkinders was haar gunstelingaktiwiteite en sy het elke oomblik van elke dag voluit geleef,” lui ’n huldeblyk vir haar.

Die personeel en vriende van Dannler wat betrokke is by Jimmy’s Cycle fietswinkel in Modimolle berei intussen ’n gedenkteken voor wat dié Saterdag 29 Januarie onthul sal word ter nagedagtenis aan Dannler.

Dannler sou verlede naweek aan die Mpumalanga-padfietskampioenskap deelgeneem het om in aanmerking te kom vir provinsiale kleure in fietsry.

Sy sou ook eerskomende Saterdag die 122 km-wedren tydens die ATKV-Klein-Kariba Classic-fietswedren in Bela-Bela aangedurf het.

Dannler se roudiens is op Maandag 24 Januarie vanuit die NG Moedergemeente in die dorp gehou.

Sy word oorleef deur Van den Berg, haar kinders en kleinkinders.

Related Articles

Back to top button