Local newsNews

Helpende Hand maak harte bly

Die Helpende Hand-tak in Mookgophong het weer bewys dat hulle werklik ’n verskil in die lewens van ander kan maak.

Die tak het gedurende die feestyd, in samewerking met Belinda Spies, ’n weldoener in die Mookgophong-gemeenskap, ’n projek geloods om aan agt behoeftige gesinne met altesame 26 kinders, kospakkies te gee sodat Desember ook vir hulle ’n tyd van feesvier kon wees.

Elke gesin het nie net ’n kospakkie ontvang nie, maar ook ’n gekookte ete en nagereg vir Kersdag. Elke kind het ’n speelding en lekkernypakkie ontvang.

Verskeie inwoners en sakeondernemings van die dorp het hul harte en hande oopgemaak en gehelp met die projek.

Bron Apteek en Naboomspruit-dienssentrum was spesifiek betrokke by die insameling van speelgoed.

“Helpende Hand Naboomspruit-tak is dankbaar vir elke skenker en vrywilliger wat hul harte tydens die feestydperk oopgemaak het en die sukses van die projek verseker het. Daar is net te veel weldoeners om elkeen op hul naam te noem,” het Marianthie Botha, streeksorganiseerder vir Limpopo en Noordwes, gesê.

Die gemeenskap het ongeveer R12 000 bygedra tot dié verdienstelike projek.

Helpende Hand het ongeveer 100 personeellede, asook 200 takke en dorpsverteenwoordigers in 12 streke wat as hul hande en voete in die gemeenskappe dien.

Hierdie takke bestaan uit vrywilligers wat die nood van Afrikaanssprekende mense in hul gemeenskappe identifiseer en dit dan binne die raamwerk van Helpende Hand aanspreek.

Related Articles

Back to top button