CrimeNews

Voorval by Nylies plaas demper op matriekuitslae

’n Voorval van beweerde rassisme het ’n demper op matriekuitslae-vreugde by Hoërskool Nylstroom in Modimolle geplaas.

Die voorval het na bewering op Woensdagaand 19 Januarie tydens ’n skoolsokkie op die skoolterrein plaasgevind.

Daar was glo ’n woordewisseling waarna ’n onderwyser glo die gewraakte k-woord aan leerders geuiter het.

Die betrokke onderwyser se dienste is die volgende oggend tydelik deur die skool se beheerliggaam opgeskort totdat die ondersoek afgehandel is.

Volgens Wiets Botes, voorsitter van die skoolbeheerliggaam, word sulke gevalle van beweerde rassisme in ’n baie ernstige lig beskou en daadwerklik aangespreek.

“Hierdie geïsoleerde voorval van beweerde rassisme is beslis nie ’n weerspiëeling van die kultuur van ons skool nie,” het hy aan Die Pos gesê.

’n Groep bekommerde ouers het die oggend ná die voorval by die skool opgedaag om optrede teen die onderwyser te eis.

Hulle is na die skoolsaal geneem waar die skoolhoof, Anton du Plessis, Wiets Botes en Khupa Lekala (beheerliggaamslid) met hulle gepraat het.

Die ouers het tydens die vergadering twee verteenwoordigers gekies wat saam met dié drie sal deel vorm van ’n ondersoekkomitee.

Die ander lede van die ondersoekkomitee sluit in Isak Enslin (adjunkhoof) en Rudi Fourie (adjunkhoof).

’n Groot groep Engelse leerders het op Donderdag 20 Januarie geweier om na hul klasse te gaan en op die pawiljoene vergader.

Volgens Botes het die skoolhoof die leerders toegespreek waarna die meeste teruggekeer het na hul onderskeie klaskamers.

Die res van die skooldag het normaalweg verloop.

Die Pos was die Donderdagoggend omstreeks 09:30 op die skoolterrein waar alles normaal voorgekom het behalwe vir ’n handjievol leerders wat nog by die pawiljoene saamgedrom het.

Hoewel daar twee polisievoertuie op die terrein sigbaar was, het alles vreedsaam voorgekom.

’n Groep mense wat deel is van die Congress of South African Students (Cosas) het op Maandag 24 Januarie by die skool opgedaag en geëis dat die onderwyser summier afgedank word.

Daar was geen ouers van leerders by hierdie groep betrokke nie. Hulle is vreedsaam uiteen nadat Botes hulle toegespreek het.

Tidimalo Chuene, woordvoerder van die departement van onderwys in Limpopo, het by navraag gesê die beweerde voorval en tydelike skorsing van die onderwyser is by die Waterbergdistriksraad van die onderwysdepartement aangemeld.

Hy het gesê die ondersoek duur voort en die nodige arbeidsprosesse sal gevolg word omdat die onderwyser deur die skoolbeheerliggaam aangestel is en nie deur die departement van onderwys nie.

Luidens ’n mediaverklaring is die skool teleurgesteld oor die voorval en onderneem hulle om die dissiplinêre proses nougeset te volg.

Related Articles

Back to top button