NewsSchools

Matrieks-2021 maak die Hansies trots

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong se matriekklas was baie opgewonde om hul uitslae op Vrydagoggend 21 Januarie te ontvang.

Xander Bester, hoofseun van die Hansies in 2021, het ook vyf onderskeidings behaal.

“Die Hansies is baie tevrede met die matriekuitslae in ’n jaar waar baie negatiewe aspekte van die pandemie verwerk moes word. Ons sien werklik uit na wat 2022 inhou,” het Rinus de Jager, hoof van die skool, gesê.

Die Hansies het altesaam 24 onderskeidings verwerf en spog met ’n 96,2 % slaagsyfer. Altesame 59,9% kandidate het universiteitstoelating behaal.

Twee van die Hansies, Charisse O’Callaghan en Xander Bester, spog met vyf onderskeidings elk. Hulle het albei ’n gemiddeld van 81,41% behaal. Nog ’n slimkop,Wilmari Hoffman, het drie onderskeidings verwerf in Afrikaans Huistaal, Engels First Additional Language en wiskundige geletterdheid.

Charisse het onderskeidings behaal in Afrikaans Huistaal, Engels First Additional Language, Frans Tweede Adissionele Taal, lewensoriëntering en lewenswetenskap.

Sy het aan Die Pos gesê sy het baie hard gewerk, maar dat sy dit nie sonder die ondersteuning van haar familie sou bereik het nie. Sy gaan vanjaar haar studies in BSc. (Agric) met dierkunde as hoofvak aan die Universiteit van Pretoria begin.

“Ek hoop om daarna toelating te kry om veeartsenykunde te studeer. Ek het nog altyd ’n passie vir diere gehad,” het sy gesê.

“Harde werk sal altyd beloon word, al sien ’n mens dit nie dadelik nie. Hou jou oog op die wenpaal en die Here,” is haar boodskap aan die gr. 12-leerders van 2022. Sy het ook gesê die mense wat in haar geglo het, het haar gemotiveer om haar beste te lewer.

Xander se kop staan ook in die rigting van veeartsenykunde. Dit is ’n passie wat hy met sy pa, dr. Pierre Bester, bekende veearts van die omgewing, deel.

“Ek het ongelukkig nie voorlopige keuring vir die kursus gekry nie, maar indien ek nie nou keuring kry nie, gaan ek BSc. Veekunde aan die Universiteit van Pretoria begin studeer en dan probeer om in my tweede jaar by die veeartsenykunde studente aan te sluit,” het hy aan Die Pos gesê.

Hy skryf sy prestasie toe aan harde werk en die ondersteuning van sy ouers en onderwysers.

Wilmari Hoffmann is nog ’n Hansie wat puik uitslae behaal het. Sy spog met drie onderskeidings.

Wilmari is baie opgewonde om haar studies in onderwys aan die Noordwes Universiteit in Potchefstroom te begin.

Sy wil graag haar meestersgraad verwerf en dan ’n dosent word. Haar spesialisvakke is lewenswetenskap en wiskunde.

“Ek het baie werk en lang ure ingesit in my studies en ek het gekry waaroor ek gedroom het. Ek is baie tevrede met my uitslae,” het sy gesê. Lizel Swart, adjunkhoof (akademie) van die skool, is baie tevrede met die uitslae en het gesê die personeel werk doelgerig aan ’n 100% slaagsyfer in 2022.

“Ons is baie dankbaar vir die verbetering sedert 2020 en dat leerders die struikelblokke kon oorkom,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button