NewsSchools

Graad eentjies klop aan by Laerskool Koedoeskop

Met die eerste lui van die skoolklok op Woensdag 12 Januarie was die leerders en onderwysers van Laerskool Koedoeskop reeds gereed om die nuwe skooljaar in te lei.

Wian de Klerk lui versigtig die klok om sy skoolloopbaan by Laerskool Koedoeskop te begin.

Onder die leerders was 28 nuwe gr. 1-leerders wat hul skoolloopbaan in die “groot skool” begin het.

Dié gr. 1-leerders was opgewonde om een-vir-een hul beurt te kry om die groot klok voor die skoolsaal te lui en sodoende hul aankoms by die skool aan te kondig. Dié klok se lui is simbolies aan die begin en einde van ’n leerder se skoolloopbaan by Laerskool Koedoeskop.

Arné Visser se eerste dag by Laerskool Koedoeskop skop op ’n hoë noot af.

Zarius Janse van Rensburg, skoolhoof, het die leerders verwelkom en gesê hy en die personeellede sien uit na die jaar wat voorlê.

“Ons sien uit daarna om ’n nuwe jaar vol ideale, aktiwiteite en allerhande lekker dinge af te skop,” het hy gesê. “Mag 2022 die beste jaar ooit wees en elke ouer en leerder vanjaar geluk en sukses behaal.”

Janse van Rensburg het verder gesê leerders se sukses hang baie van hul ouers, onderwysers en ander rolmodelle af en daarom het hy ouers aangemoedig om vanjaar meer betrokke te raak by hul kinders se skoolaktiwiteite.

Ella Hanson lui opgewonde die skoolklok terwyl haar maats en onderwysers toekyk.

“Betrokkenheid van ’n ouer weerspieël baie dikwels die prestasie van ’n kind,” het hy verduidelik. “Ek hoop dat vanjaar vir almal ’n geleentheid sal bied om deel te word van ons hegte Koedoeskop-familie.”

Die skool se tema vir die jaar is: “Om suksesvol te wees voeg waarde toe tot ’n individu se lewe” en volgens Janse van Rensburg is dié sukses slegs moontlik as ’n mens positief bly en in jouself glo.

“Mag elke leerder kies om positief te wees. Wees aanpasbaar, wees dankbaar en soos Romeine 12:2 sê: Mag God elkeen verander deur ons denke te vernuwe,” het hy afgesluit.

Related Articles

Back to top button