Local newsNews

Dorpsdamme loop vir eerste keer in jare oor

Die milde reën wat die afgelope vakansie oor Bela-Bela en omgewing uitgesak het, het daartoe gelei dat die dorpsdamme vir die eerste keer in 11 jaar weer hul walle oorstroom het.

Die Platrivier, wat jare lank droog was, het ook vir die eerste keer deur die Roodepoort- en Noodhulp-omgewing gevloei. Volgens inwoners het dié rivier in 2008 laas so sterk gevloei.

Die afgelope Desember is gekenmerk deur goeie reën wat in die omgewing geval het. Die gemiddelde reënval in die Mabula-omgewing was 321 mm, in Bela-Bela 260 mm tot 300 mm, Modimolle 300 mm en die Loubad-omgewing 400 mm. Op die foto baljaar ’n paar eende by die Koffiekan-restaurant se poele in Modimolle. Foto: Herman Steyn

“Ons is verheug oor die stand van ons damme. Al drie damme (die Bischoffs-, Fish Eagle Bay en die ou Warmbad-dam) het oorgeloop. Vir die boere beteken dit water vir die volgende seisoen en vir dorpsinwoners kan dit volgehoue watertoevoer ná 20:00 saans beteken,” het Armand de la Porte van die Warmbad-besproeiingsraad aan Die Pos gesê.

Die Bela-Bela-munisipaliteit was in 2019 verplig om waterbeperkings in te stel en die watertoevoer saans vanaf die reservoirs af te sluit. Die aanvraag na water was hoër as die toevoer na en van die reservoirs en dit het tot gevolg gehad dat die reservoirs soms leeggeloop het.

Modimolle-inwoners kan vanjaar met ’n geruste hart weet dat daar genoeg water deur hul krane gaan vloei nadat swaar reën in die opvangsgebied van die Donkerpoort-dam geval het. Op die foto is die Nylrivier wat sy damwal in Thabo Mbeki-rylaan oorspoel het. Foto: Herman Steyn

Suid-Afrika word allerweë as ’n water-arm land beskou. Die meeste waterbronne word reeds oorbenut en die aanvraag na water word groter met die snelgroeiende bevolkingsaanwas, het De la Porte gesê. Die Platrivierstelsel is ’n voorbeeld van een van die waterbronne wat onder groot druk is.

Die Roodepoort-omgewing het volgens hom sedert Augustus tot Desember altesame 459 mm gehad. Die drie damme het almal teen Donderdag 30 Desember oorgeloop. Die huidige reënseisoen sal na verwagting tot April voortduur, het hy gesê.

Die motorryers op die R101-pad tussen Bela-Bela en Pienaarsrivier het op Maandag 27 Desember probleme ondervind nadat hewige reënval gelei het tot oorstromings in dié gebied. Die meeste verkeer is na die N1-snelweg herlei. Foto: Herman Steyn

“Die Waterberg-omgewing het die afgelope klompie jare reënval van minder as 300 mm per jaar aangeteken, wat tot gevolg gehad het dat waterbronne erg onder druk was.”
“Die ou Warmbad-dam was kort-kort leeg omdat die drastiese toename in die aantal inwoners die aanvraag na water verhoog het en die stelsel kon nie meer aan die behoefte voldoen nie. Om water vanaf Magalies Water te ontvang, beteken hoër heffings. Dit is baie goedkoper om water van bestaande bronne te gebruik,” het hy gesê.

Hy het voorts gesê indien die omgewing ’n jaarlikse reënval van 550 tot 750 mm ontvang, sal die damme genoeg water hê om aan die huidige behoeftes van die dorp te voorsien. Die afgelope 11 jaar was die reënval egter nie voldoende nie en die damvlakke het skerp gedaal.

“Met die opgradering van die Magalies-pompstasie op die R516-pad buite die dorp, was daar ’n verbetering in die nuwe dorpsdam (Fish Eagle Bay) se algehele watervlak. Die water vanaf Magalies is reeds gesuiwer en kan direk aan die publiek verskaf word. Ons is egter bekommerd dat die watersuiweringswerke in Bela-Bela nie aan die aanvraag na gesuiwerde water sal kan voldoen nie.”

Boere en kleinhoewe-eienaars is dankbaar vir die goeie reënval wat ook die ondergrondse watertafel gevoed het en goeie nuus vir boorgateienaars is. Veral inwoners van Noodhulp het die afgelope paar jaar ernstige watertekorte ervaar.

  • Die Warmbad-besproeiingsraad is sedert 1904 deel van die Platrivier-stelsel en is ’n geregistreerde waterverbruiker by die departement van waterwese.

    Die 23 eiendomme aan die linkerkant van die Platrivier, wat deel vorm van die besproeiingsraad, word deur die Chamberlains Weir-kanaal gevoed. Dié kanaal is ongeveer 800 m vanaf die ou Warmbaddam en voorsien water aan hierdie eiendomme wat ’n besproeiingsvlak van ongeveer 245 ha beslaan.

    Geen kanaal of uitloop bestaan aan die regterkant van die Platrivier nie, het De la Porte gesê.

    Die Platrivierstelsel is verder nie ’n standhoudende rivier nie en vloei slegs wanneer daar goeie reënval was.

    Volgens De la Porte is die ou Warmbaddam in 1923 voltooi. Die munisipaliteit is eers daarna gestig. Die nuwe dorpsdam is in 1989 voltooi en het vir die eerste keer in Maart 1990 oorgeloop.

    Die bestuur van die dorp se waterbronne het volgens hom sedert 1994 agteruit gegaan.

    Daar bestaan tans vyf punte waar die departement van waterwese se hidrologie-eenheid die water in die omgewing gereeld meet. Dit sluit in die skietbaan op die Alma-pad buite die dorp, by die uitloop van die nuwe dorpsdam, tussen die ou en nuwe dam, bo-op die ou dam se wal en onder die ou dam se wal.

Related Articles

Back to top button