Local newsNews

Modimolle-inwoners moedeloos oor swak toestand van paaie

Inwoners van Modimolle — soos dié van talle ander plattelandse dorpe — sit met hul hande in die hare oor die grootskeepse agteruitgang van die dorp se teerpaaie.

Die Pos het met Deon Muller, wat al meer as 20 jaar in Modimolle woon, gesels. Hy het aan Die Pos vertel dat die munisipalewaterpyp wat onderdeur Buffalostraat loop, naby die Koinonia-kerk in Modimolle, al vir meer as drie jaar deurlopend water lek. Die plaaslike munisipaliteit se span word telkens uitgeroep om die lekkasie te herstel, maar binne ’n paar dae begin daar net weer water deursyfer. Inwoners is raadop en eis antwoorde by die munisipaliteit.

Hierdie enorme slaggate in Buffalostraat, Modimolle, word veroorsaak deur ’n lekkende munisipalewaterpyp wat onderdeur die pad loop en groot skade aan die padoppervlak aanrig. Inwoners is al raadop omdat hierdie probleem, wat die afgelope drie jaar gereeld by die plaaslike owerheid aangemeld word, steeds nie opgelos is nie.

“Die skade aan die padoppervlak word net erger en talle inwoners se motors is al beskadig deur die enorme slaggate,” het Muller gesê.

Die laagwaterbrûe oor die Klein-nylrivier, net duskant Limpopostraat (voorheen Rivierstraat), was etlike dae onder water nadat swaar reën tussen Sondag 26 Desember en Maandag 27 Desember in die Waterberg geval het. Sommige areas in die dorp het in twee dae meer as 100 mm reën gemeet met ’n gemiddelde reënval van tussen 200 tot 300 mm reën vir Desember.

Dit is die tweede keer in 2021 dat die laagwaterbrûe oorstroom. Die Pos het in ’n vorige uitgawe (29 Januarie 2021) ook berig daaroor nadat ’n tropiese storm in Mosambiek gewoed het.

  •  Aksie opknap, in samewerking met Adopt a Pothole (gemeenskapsgroep), het op Maandag 10 Januarie ’n vergadering met die plaaslike munisipaliteit en ander belanghebbendes belê om die herstel van slaggate te bespreek. Marlene van Staden, burgemeester, was ook teenwoordig. Sarie van den Berg, een van die projekleiers van Adopt a Pothole, het aan Die Pos vertel dat hulle einde verlede jaar 65 sakkies teer gekoop het na afloop van hul fondsinsamelingsprojek waarmee hulle reeds begin het om slaggate in Kerkstraat in Modimolle te herstel. 

Related Articles

Back to top button