BlogsOpinion

Hoofartikel: In my droomwêreld

In my droomwêreld was ek ’n voorslag in die kombuis.

In my droomwêreld was ek ’n voorslag in die kombuis.

’n Ina Lessing wat konfyt kook van lemoenskille, moepels en groenvye. ’n Annette Human wat sommerso op ’n gewone weeksdag vleiskoekies met pynappelsous of lamstjops met blatjangbedrupte sous opskep.

’n Sue Kotzé wat komkommerkoel tuisgebakte saadbroodjies en warm hoenderpasteie uit die oond aflewer as ek benoud laat weet daar het onverwags gaste opgedaag.

’n Kotie Wagner wat weet hoe om tarentaal, makou of patrys se wildheid te tem tot murgsag vleis wat van die been afval.

’n Rhonel Pienaar wat pampoenkoekies in ’n suikersoetsous vir “so 300 gaste” maak asof dit tien braaibroodjies is.

In my droomwêreld dek ek Sondae mooi tafel en dra nonchalant bakke met skyfies beestong, korrelmostert en gebakte geelperskes uit stoep toe. Ek maak my eie roomys, karamelsous en pasta; ek koop dit nie.

Ek gooi woorde soos bedruip, prut, blansjeer, dreineer, preserveer en marineer asof dit Baas en Mossie-woorde is.

Ek steek behendig jenewer in ’n pan aan die brand om ’n lekker hoenderdis aanmekaar te slaan.

Ek het ’n vol spens, ’n instap-koelkas vol verskillende vleissnitte wat hang om ryp te word, tuisgemaakte kase en botter, ’n biltongkas en vetgemaakte speenvarkies agter in die werf.

Ek sê sommer maklik vir iemand: “Ag, dit is koud vandag. Bly vir ete. Ek het droë ertjies, repies gerookte vark, preie en Frankfurters in die huis. Ek maak sommer gou vir ons ’n ertjiesop met brosgebraaide croutons.

Maar dit is in my droomwêreld.

In die regte lewe lees ek saans resepteboeke in die bed en prewel verwonderd woorde soos groente-moesaka. Bone-kasserol. Quesadillas. Tortillas. Kalkoenmaalvleis-kebas. Varkliesribbetjie.

In die regte lewe is daar altyd iemand in my huis wat vra: “Wat eet ons vanaand?” Of: “Daar is niks in die yskas nie!” Of: “Gaan iemand een of ander tyd winkel toe?”

In die regte lewe het die inperkingstyd gemaak dat almal nou my feta-en-tamatiegereg ken. Ek het gebakte aartappels vervolmaak, maar hoeveel keer per week kan ’n mens dit voorsit? Ek weet presies watter stoofplate die beste is. Ons het al die restaurante en wegneemplekke se nommers op ons selfone. En tog voel dit vir my asof almal in my huis konstant honger is.

En soms — maar net as ek in my droomwêreld is — is ek steeds Ina, Annette, Sue, Kotie of Rhonel.

Related Articles

Back to top button