NewsSchools

Alta is Lord Milner School se nuwe hoof

Alta Hitchcock, jarelange onderwyser by Lord Milner Primary School in Settlers, het die dag voor Kersfees die goeie nuus ontvang dat sy as voltydse hoof van dié skool aangestel is.

“Die kringbestuurder van die Limpopo-onderwysdepartement het verlede jaar by my aangedring om vir die pos aansoek te doen. Ek was maar op daardie stadium huiwerig en my verwagtinge was min. Ek het vir myself gesê as dit die Here se wil is dat ek in die pos aangestel word, sal ek dit kry.”

Hitchcock het by die skool as hoof waargeneem nadat die vorige hoof, Etienne Burger, in Junie verlede jaar onverwags aan Covid-19 dood is.

“Covid-19 het ons skool baie hard getref. Dit was skrikwekkend toe daar meer as 20 mense per week by die skool siek was. Tog het ons danksy groot genade deur dié moeilike tyd gekom en almal het die nuwe uitdagings moedig aangepak.”

Hitchcock is meer as 30 jaar in die onderwys betrokke.

“Ek verstaan die kultuur van die skool en ken die ouers. Ek ken die druk wat onderwys meebring. Soms is dit baie erg, maar ek is vertroud met die stelsels en die bestuurswyse van ons skool. Dit was ’n reusetaak om 30 jaar se apparaat en hulpmiddels uit my gr. 1-klas te gaan oppak,” het sy gesê.

“Hoewel ek opgewonde is oor die nuwe taak wat aan my toevertrou is, is ek ’n bietjie hartseer oor my klas en die gr. 1’s. Ek is ’n gebore gr.1-juffrou. Ek was bevoorreg om my honneursgraad in skoolbestuur, onderwysreg en stelsels te voltooi.”

Hitchcock het aan Die Pos gesê sy het verlede jaar baie ekstra take as waarnemende skoolhoof, adjunkhoof en klasonderwyser gehad, maar nogtans het die skoolbestuur glad verloop. Sy het gesê die bekwame personeellede van Lord Milner School het haar baie ondersteun en hulle het lekker saamgewerk.

“Ek sal veral dankbaar wees vir die lugversorger in my kantoor, want ’n skoolhoof is dikwels om een of ander rede in die spreekwoordelike warm sitplek,” het sy geskerts. “Maar ek is nie ’n lui mens nie; ek sal enigiets aanpak wat oor my pad kom.”

Related Articles

Back to top button