NewsSchools

Skoolhoofde maak gereed vir die nuwe jaar

Leerders en onderwysers van Thabazimbi is slaggereed om die nuwe skooljaar af te skop.

Die Pos het by ’n paar skoolhoofde in die dorp gaan besoek aflê om uit te vind wat hul wense vir die nuwe akademiese skooljaar is.

Koos Venter, skoolhoof van Laerskool Thabazimbi, sê die afgelope twee jaar het baie mense moedeloos gelaat, maar hy is vol vertroue dat mense met ’n bietjie deursettingsvermoë en nuwe hoop die beste van 2022 kan maak.

“Ons staan aan die begin van ’n nuwe skooljaar,” het hy gesê. “Vir baie van ons voel dit asof daar twee jaar van ons lewens verlore is, maar waar daar hoop is, is daar lewe. Hoop is ’n baie klein woordjie, maar dit is iets wat ’n groot impak op ons lewens kan hê.”

Die uitbreek van die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande inperkings het vandag nog ’n reuse-invloed op die dorp, maar Venter glo dat die gemeenskap uitdagings kan oorkom deur saam te staan.

“Ons skole is die middelpunt van ons samelewing,” het hy gesê. “Sonder skole sou ’n dorp soos Thabazimbi maklik in ’n spookdorp kon verander, maar dit is ons elkeen se verantwoordelikheid om ’n bydra te lewer tot die opbou van ons dorp en ons skole.”

Venter maan inwoners om te besin oor hul bydrae tot die beeld van die dorp se skole.

Koos Venter, skoolhoof van Laerskool Thabazimbi, wil graag inwoners motiveer om vanjaar meer betrokke te raak by die gemeenskap en deel te word van plaaslike skole se aktiwiteite.

“Dink of jou handeling positief tot die skool of dorp bydra. Elkeen kan ’n positiewe verskil maak. Ondersteun jou skool, kerk, die munisipaliteit, die gemeenskapspolisiëringsforums, die owerhede en die boereverenigings. Kyk hoe en waar jy betrokke kan raak, want elke nuwe jaar is soos ’n spierwit, skoon bladsy in jou lewensverhaal en dit is jy alleen wat die skrywer van daardie verhaal is.”

Soos Venter glo Arisce Stander, skoolhoof van Kuikenden Kleuterskool, dat elke nuwe jaar ’n geleentheid is om die mense rondom jou se lewens te verryk. Die beste plek om te begin is by ons eie kinders.

Ons het die laaste twee jaar soveel hartseer beleef daarom glo Stander dit is nou die tyd vir die gemeenskap om skouer aan die wiel te sit en saam ’n beter toekoms vir die kinders te bou.

“My wens vir die nuwe jaar is dat elke kind genoeg kos het om te eet, ’n dak oor hul koppe, genoeg liefde en aandag en die voorreg om sonder onnodige struikelblokke skool te gaan,” het sy gesê.

Hoërskool Frikkie Meyer se skoolhoof, Colin Campbell, het gesê hy en die onderwysers van dié skool sien daarna uit om die leerders op Woensdag 12 Januarie by die skool te ontvang. Vir Campbell is ’n positiewe houding elke jaar die sleutel tot die skool en sy leerders se sukses. “Ons sien uit na ’n mooi jaar met mooi hoogtepunte. Ons glo dat 2022 ’n goeie jaar sal wees en selfs al staar ons steeds die uitdaging van die Covid 19-pandemie in die gesig, kan ons dié jaar afskop met die wete dat ons baie geleer het uit die vorige twee jaar se uitdagings,” het hy gesê.

Campbell het beklemtoon dat daar altyd uitdagings tydens ’n nuwe skooljaar is, maar met die ondersteuning van Hoërskool Frikkie Meyer se ouers en die gemeenskap van Thabazimbi kan die skool dié uitdagings te bowe kom.

Colin Campbell, skoolhoof van Hoërskool Frikkie Meyer, se wens is dat die gemeenskap sal help om elke leerder in Thabazimbi se skooldrome te verwesenlik.

“Ons wil elke leerder, ouer en in besonder die gemeenskap van Thabazimbi bedank vir hul volgehoue ondersteuning. Dit is juis danksy dié ondersteuning dat ons dit regkry om een van die topskole in die Waterberg te bly,” het hy gesê.

Campbell nooi almal in die gemeenskap uit om vanjaar meer betrokke te raak by dié skool en ook ander skole in die gemeenskap en sodoende ’n beter toekoms vir al die kinders te skep.

“Ek wil graag lede van die gemeenskap uitdaag om in 2022 hande te vat met die skole in ons dorp en die skole in staat te stel om vir ons kinders soveel as moontlik geleenthede te skep.”

Related Articles

Back to top button