MunicipalNews

Geluksgodin glimlag breed vir burgemeester

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het tydens hul vyfde raadsvergadering op Donderdag 2 Desember die amptenare aangewys vir die twee topposte.

Marlene van Staden (DA-raadslid) is vir ’n tweede termyn in die burgemeesterspos met Sophie Dayimani (ANC-raadslid in wyk 11) as hoofsweep.

Die drie raadslede wat in die Waterberg-distriks munisipaliteit sal dien — Maria Kekana (ANC-raadslid in wyk 14), Dingaan Motshwene (DA-raadslid) en Eggi Matlebyane (EFF-raadslid) —is ook verkies.

Sinah Langa, nuutverkose speaker, het skuins ná 09:00 voortgegaan met die eerste punt op die agenda — die verkiesing van ’n burgemeester. Omdat die eerste stemming op Maandag 29 November gelykop was, moes daar vir ’n tweede keer gestem word.

Ingevolge die munisipale strukturewet moet ’n muntstuk opgeskiet word indien die tweede stemming ook gelykop is.

Die atmosfeer in die raadsaal en gallery was gespanne terwyl die twee geestelike leiers, Johan Brits (Fokus Deo) en Felix Fambi (Awake Grace Ministries International) wat as verkiesingsbeamptes opgetree het, die stembus en stembriewe gereed gekry het.

Intussen het die vier provinsiale verteenwoordigers van elke party, Sarah Monyamane (ANC), Desirée van der Walt (DA), Jossey Bhutane (EFF) en Marcelle Maritz (VF-Plus) na vore gekom om die stemproses dop te hou.

Die speaker se versoek dat die vier verteenwoordigers hul sitplekke moet inneem het ontevredenheid ontlok en hulle het verseg om te gaan sit. Hierop het verskeie ANC-raadslede dit duidelik gemaak dat die EFF- en DA-verteenwoordigers, asook enige ander “ongenooides”, nie welkom in die raadsaal is nie.

Die vergadering is in chaos gedompel toe die nuutverkose speaker alle provinsiale partyverteenwoordigers die raadsaal verbied het. Ná ’n kort pouse om gemoedere te laat kalmeer het die stemming omstreeks 09:45 begin.

Halfpad deur die stemproses het pandemonium uitgebreek toe die EFF se provinsiale verteenwoordiger, Jossey Buthane, saam met lede van die publiek by die raadsaal ingebars en die vergadering ontwrig het. Hewige woordewisselings het tussen die EFF- en ANC-raadslede uitgebreek en die speaker moes veiligheidswagte vra om die oproeriges te verwyder.

Aangesien die stemproses ontwrig is, moes alle stembriewe wat reeds in die stembus was, vernietig word. Raadslede het omstreeks 10:15 in ’n gedempte atmosfeer na vore gekom om hul geheime stem uit te bring. Die stemme was weer 14 elk vir die DA- en ANC-kandidate.

Die burgemeesterskandidate, Marlene van Staden (DA) en Aaron Sebolai (ANC), is vorentoe geroep vir die opskiet van die muntstuk. Op presies die oomblik dat die muntstuk op die vloer geval het, het die raadsaal se ligte skielik afgegaan. Johan Brits het dadelik sy selfoon se flitslig gebruik en verklaar dat die muntstuk in die guns van die DA-kandidaat geval het.

Albei kandidate het die uitslag aanvaar en Patrick Shika, munisipale woordvoerder, het die burgemeestersketting om Van Staden se skouers gehang.

Hierna het die vergadering vir ’n kort pouse verdaag waarna die verkiesing van raadslede vir die Waterberg-distriksmunisipaliteit gevolg het.

Hulle is Maria Kekana (ANC-raadslid in wyk 14), Dingaan Motshwene (DA-raadslid) en Eggi Matlebyane (EFF). Die verkiesing van die hoofsweep het omstreeks 12:00 plaasgevind en het op 14 stemme elk vir die onderskeie kandidate — Sophie Dayimani (ANC-raadslid van wyk 11) en Marita Louw (VF-Plus-raadslid van wyk 5) uitgeloop.

Die speaker het voorgestel dat daar voortgegaan word met die volgende agendapunt, naamlik die aanwys van ’n waarnemende munisipale bestuurder, voordat die tweede stemming vir die posisie van hoofsweep plaasvind.

Die nuutverkose burgemeester, Van Staden, het die huidige waarnemende munisipale bestuurder, dr. Shepherd Mhlanga, benoem terwyl Aaron Sebolai (ANC-raadslid) vir Dakalo Sinthumule, tans direkteur van strategiese beplanning en ekonomiese ontwikkeling, benoem het.

Die stemming wat met die opsteek van hande gehou is, was weer 14 elk waarop die speaker aangekondig het dat sy die finale besluit neem om Sinthumule vir die volgende drie maande in die pos aan te stel. Dit gee die raad genoeg tyd vir raadpleging.

Kort voor 13:00 is daar voortgegaan met die tweede stemming vir die hoofsweep wat weer gelykop was.

Albei kandidate het na vore gegaan vir die opskiet van ’n munstuk wat in Dayimani se guns geval het. Hierna is die vergadering afgesluit met ’n kort toespraak van die burgemeester waarin sy gevra het dat alle raadslede moet saamwerk om die gemeenskap te dien.

“Die gemeenskap se belange moet ons eerste prioriteit wees en onderlinge tweegevegte tussen politieke partye en raadslede moenie die werking van die munisipaliteit kniehalter nie,” het sy gesê.

Die Modimolle-Mookgophong, asook die Thabazimbi plaaslike munisipaliteite, is die enigste twee munisipaliteite in Limpopo waar die ANC nie die oorgrote meerderheid stemme verwerf het nie. Albei van hierdie munisipaliteite het nou DA-burgemeesters.

Related Articles

Back to top button