Local newsNews

Toerisme steeds hartklop van die Waterberg

Dit was ’n uitdagende twee jaar vir die toerismebedryf en daarom is inwoners van Bela-Bela deesdae baie meer geduldig wanneer lang rye karavane op Vrydagmiddae die dorp inry.

Die besoekers met die groot voertuie en GP-nommerplate wat inwoners soms verontrief, is die lewensaar van toeristedorpe soos Bela-Bela.

“Baie mense het nodig om weg te kom van die stresvolle situasies waarin hulle verkeer. Ons begin al hoe meer terugvoer kry dat mense se finansiële posisies ’n groter invloed op hul reiskeuse as die Covid-19-pandemie het,” het Judy Groenewald van die Waterberg Toerisme-organisasie by navraag aan Die Pos gesê.

“Al hoe meer mense is ten volle ingeënt teen die virus en daarom voel baie mense nou meer gerus om weer te reis. Die Waterberg is ’n fantastiese bestemming vir mense omdat daar steeds soveel opsies is om groot groepe mense te vermy. Die meeste aktiwiteite is ook in die buitelug.”

Volgens hul rekords is daar meer as 1 000 instansies in die Waterberg wat akkommodasie, vermaak en aktiwiteite aan toeriste bied.

Baie toersimeondernemings het die afgelope jaar tydelik gesluit en het intussen hul geriewe opgegradeer in die hoop dat toerisme weer volkome sal herstel. Dit is hartseer om te sien hoeveel sakeondernemings het nie die Covid-9-inperkings oorleef nie en hul deure permanent moes sluit.

Buitelandse toeriste het gewoonlik teen September na Suid-Afrika begin reis, maar vanjaar het die pandemie dié bedryf ’n gevoelige slag toegedien en daar is swaar op binnelandse toeriste gesteun. Veral binnelandse toeriste wat selfsorg, kampeer en karavaanbestemmings verkies, het sedert die verslapping van die veiligheidsmaatreëls aansienlik gegroei.

Talle oorde en sakeondernemings is nogtans genoop om hul personeel te verminder.

“Sake-eienaars het voor ’n groot uitdaging te staan gekom,” het Groenewald gesê.

“Hulle moes met minder personeel steeds puik diens lewer en die standaard van hul oord of bestemming handhaaf. Dit het tot gevolg gehad dat personeel bykomende opleiding moes ondergaan. Die Covid-19-protokol het ook bykomende druk gebring en bedryfskostes verhoog.”

Sy het gesê die binnelandse mark is met sakpaspakette gelok en van die oorde en lodges het met innoverende planne vorendag gekom.

“Ons het sakeondernemings aangemoedig om hul gaste meer waarde vir geld te gee deur bykomende aktiwiteite, maaltye, verlengde verblyf en uitstappies.”

Oorde met goeie WiFi-sein was veral gewild omdat meer mense deesdae van die huis af werk, het sy gesê.

“Die Waterberg-omgewing is enige tyd van die jaar ideaal. Dit is malariavry, hier is volop fauna en flora en daar is altyd ’n swembad beskikbaar,” het Groenewald gesê.

“Ons glo slim bemarking is baie belangrik en ons hoop nie dat daar weer nuwe Covid-19-inperkings ingestel sal word nie.”

Allan Hoffman, hoofbestuurder van Forever Resorts-vakansieoord in Bela-Bela het dit beaam en aan Die Pos gesê die laaste twee jaar was ongelooflik uitdagend vir mense in die toerismebdryf.

“Ons was gelukkig geseënd met ’n uitsonderlike personeelspan wat die volle ondersteuning van ons hoofkantoor geniet,” het hy gesê.

“Ons het saam deur stormwaters gegaan en elke geleentheid in iets positiefs probeer omskep. Dit was soos ’n sportveld waar die spelreëls en die speelveld gedurig verander het. Deur die Here se genade het ons boot gelukkig bly dryf.”

Hoffman het gesê Forever Resorts se vakansieprogram skop op Vrydag 17 Desember af en beloof om groot opwinding en pret aan besoekers te bied.

“Ons is bykans klaar met die opgradering aan ons hout-eenhede by die ski-dam en ons waterpark sal oop wees vir dagbesoekers,” het hy gesê.

Besoekers kan die webtuiste www.quicket.co.za besoek om toegang tot die oord te kry.

Weens Covid-19-beperkings geniet slegs oornaggaste tans toegang tot die oord se spa.

“Ons bedank graag die gemeenskap en elkeen van ons lojale gaste vir hul volgehoue ondersteuning in hierdie moeilike tyd. Die verskaffers, personeellede en bestuurspan het saam gewerk om diep waters te trotseer.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button