Lifestyle

Oppas vir gevaarlike Bosveldson

Die Waterberg-omgewing het die afgelope naweek baie welkome reën ontvang met ’n gemiddelde reënval van 40 mm in Bela-Bela.

Inwoners van dié dorp kan getuig van die ongekende hoë temperature en humiditeit net voor die naweek.

Met die feesseisoen op hande, word inwoners en besoekers gemaan om versigtig te wees vir die gevare wat hoë temperature en die son kan inhou.

“Bejaardes en jong kinders is die grootste slagoffers van hitteverwante ongevalle, maar daar kan proaktief opgetree word,” het Andy Gill van Life24-ambulansdienste aan Die Pos gesê.

Volgens hom is daar vyf toestande wat deur die son veroorsaak word en baie nadelig vir die gesondheid kan wees. Dit sluit in sonsteek, hitte-uitputting, hittekrampe, sonbrand en hitte-uitslag.

Sonsteek:

“Sonsteek is wanneer die persoon se liggaamstemperatuur meer as 39°C is of hul vel warm, rooi, droog of sweterig voorkom. Verder ervaar die persoon hoofpyn, hul hartklop is vinnig, hulle is duiselig, naar, verward en in erge gevalle kan hulle bewusteloos raak.”

In so ’n geval moet mediese hulp dadelik ingeroep word en dit word geklassifiseer as ’n noodgeval. Die persoon moet onverwyld na ’n koeler plek geneem word.

Probeer om die persoon se temperatuur af te kry deur hulle met koue natlappe af te vee. Gill waarsku om onder geen omstandigheid vir die persoon iets te drinke te gee nie, want sonsteek kan ook organe beskadig.

Hitte-uitputting:

“Die enigste verskille in vergelyking met sonsteek is dat die persoon erger sweet en dat hul polsslag nie noodwendig so vinnig sal wees nie. Die pasiënt ervaar spierkrampe, is moeg en voel swak.”

Die korrekte optrede is om die persoon ook na ’n koeler omgewing te skuif, hul klere los te maak vir beter ventilasie, hulle af te spons met koue water en om slukkies water te gee.

Mediese hulp moet ingeroep word indien die persoon opgooi, hul bestaande simptome vererger en die toestand vir langer as ’n uur duur.

Hittekrampe:

Hittekrampe word ervaar as ’n persoon erge sweetbuie ervaar nadat hy of sy fisiese werk of oefening gedoen het.

“Hierdie mense word aangeraai om alle fisieke aktiwiteite te staak en in ’n koeler omgewing te gaan ontspan. Hulle moet ook water of sportdrankies met genoeg elektroliete inkry. Hulle word aangeraai om geen verdere aktiwiteite te onderneem totdat die spierkrampe verdwyn nie.”

Mense met hartprobleme of mense wat weens hartprobleme op ’n lae-soutdieet (min of geen sout in hul voedsel) geplaas is, het ’n groter risiko om spierkrampe te kry, het Gill gesê.

Sonbrand:

Die tipiese simptome sluit in pynvolle, rooi, warm, vel of blase op die vel.

“Hierdie pasiënte moet direkte sonlig vermy totdat die veltoestand genees het. Neem ’n koue bad of smeer velroom aan die dele wat gebrand is. Dit is baie belangrik dat mense nie die blase oopkrap nie.”

Hitte-uitslag:

Die eerste teken is klein, rooi blasies op die vel. Dit word meesal op die nek, borskas, privaatdele of in die elmboog se voue aangetref.

“Beweeg na ’n koeler plek en hou die uitslag droog. Babapoeier werk baie goed om die gejeuk te verlig,” het Gill gesê.

  • Vir enige noodsituasie waar dringende ambulansdienste in die feestyd verlang word, bel Life24 se noodnommer by tel. 082 040 5003.

Related Articles

Back to top button