CrimeNews

Hoofseun se bromponie teruggevind

Hino van Graan, hoofseun van Hoërskool Warmbad, het die afgelope week ’n sug van verligting geslaak nadat die polisie sy gesteelde bromponie teruggevind het.

Hino se bromponie is op Woensdag 27 Oktober buite die skool se hek in die parkeerarea gesteel terwyl hy besig was om sy matriekeksamen af te lê.

Volgens die polisie is die motorfiets omtrent ’n maand later in Krugersdorp deur ’n ondersoekbeampte opgespoor.

Die bromponie het intussen van voorkoms verander en spog nou met ’n splinternuwe verflaag.

Die twee mans, onderskeidelik 32 en 36 jaar, wat in besit van die bromponie was, is in hegtenis geneem en aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Hulle het op Woensdag 24 November in die hof verskyn en is elk borgtog van R1 000 toegestaan.

Hulle volgende hofverskyning is op Woensdag 14 Desember. Hino het in reaksie gesê hy is dankbaar om sy bromponie terug te hê.

“Ek is nie regtig mal oor die nuwe verfkleur nie, maar sal daarmee vrede maak. Ek is net dankbaar dat geregtigheid geskied het.”

Related Articles

Back to top button