Local sportSport

Al hoe meer mense is lus vir ’n potjie ‘pool’

Daar is tans ongekende belangstelling in plaaslike potspel-kompetisies.

Nuwe deelnemers sluit hulle toenemend aan by die reeds bestaande potspelkompetisies wat weekliks in Bela-Bela en Modimolle gehou word.

Die vriendskaplike kompetisies is nie net ’n bemarkingsgeleentheid vir die onderskeie kroeë en klubs nie, maar ook ’n geleentheid vir inwoners om hul talente te ontgin.

Die kuierplekke waar kompetisies reeds plaasvind, sluit in die Jagkamp-kroeg en Mampoerboer Pub in Modimolle, Springbok Boma en De La Rey’s-kroeg buite Bela-Bela.

Een spesifieke speler, Simon Mashangwane, was al herhaalde kere bo-aan die punteleer.

Hy het die afgelope week drie kompetisies by Jagkamp en Mampoerboer in Modimolle gewen.

Een van die eienaars het aan Die Pos gesê die aantal deelnemers het die afgelope jaar verdubbel. Die seisoen staan nou einde se kant toe en spel sal weer in alle erns in die nuwejaar hervat word.

Adriaan Prinsloo, organiseerder van die byeenkomste, het by navraag gesê dit het goeie beplanning geverg om die kompetisies oor 10 weke te speel en in die proses die topspelers te identifiseer.

“Ons verwag om die nuwe kompetisieseisoen in die tweede week van Januarie 2022 af te skop. Tot dusver was die belangstelling ongelooflik. Die kompetisies was gesellig en gesinne kon saamkuier terwyl die potspel aan die gang was.”

Prinsloo het gesê met die vaardighede wat spelers tot dusver getoon het, het dit tyd geword om ’n amptelike potspelklub in die lewe te roep.

Dit sal as die Waterberg Poolklub bekend staan. Baie organisasie en beplanning is nog nodig om die klub tot stand te bring.

“Die Limpopo agtbalpotspel-unie vereis dat ons 15 manspelers en sewe vrouespelers moet hê om ’n amptelike klub te stig. Sover het ons meer as genoeg belangstelling. Die plan is om sake teen Maart te finaliseer en daarna sal die topspelers ook aan groter toernooie kan deelneem.”

Die huidige ranglys van topspelers sluit in Mashangwane, David Marima, Jors Koch, Pieter Bezuidenhout, Josh Odendaal, Chrystell du Plessis, Kirsty Odendaal, Jannie du Plessis, Adriaan Prinsloo en Lenus Lubbe.

Prinsloo het gesê hoewel die formele kompetisie eindig, sal plaaslike sakeondernemings mekaar steeds dié vakansie in informele kompetisies uitdaag.

Belangstellendes wat meer oor die spel en die beoogde klub wil uitvind kan vir Prinsloo direk bel by tel. 078 152 5227.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button