MunicipalNews

Nuwe burgemeester vra inwoners se geduld met haglike paaie

Die Pos-koerant het aan die begin van die jaar ’n takkantoor in Thabazimbi geopen en daarmee saam het die koerant inwoners van die dorp genooi om saam met ons op ’n reis deur die dorp te gaan en te wys “hoe lyk Thabazimbi deur jou oë”.

Hierdie foto is onlangs deur Driansu van Niekerk geneem waar die driejarige Sion van der Nest in een van die talle slaggate in Michaelstraat speel.

Die koerant het die afgelope jaar baie foto’s ontvang van die natuurskoon, maar op dié foto sien ’n mens ’n beeld wat vir baie inwoners sinoniem geraak het met Thabazimbi.

Op die voorblad van Vrydag 7 Mei het Die Pos berig oor die drastiese agteruitgang van die dorp en omliggende dorpe se paaie en deesdae lyk dit asof dié prentjie onveranderd, of selfs erger, is.

“Dit is soms moeilik om in die pad te bly met al die slaggate waarvoor ’n mens moet uitswaai,” het een leser aan Die Pos gesê.

Met die onlangse munisipale verkiesing agter die rug het Die Pos gaan kers opsteek by Tokkie Swanepoel, nuutverkose burgemeester, om by haar uit te vind waarom die paaie steeds so sleg lyk en hoe die publiek te werk moet gaan om slaggate aan te meld.

“Die Thabazimbi-munisipaliteit het die afgelope vyf jaar baie staatgemaak op plaaslike sakeondernemings en myngroepe in die omgewing om ons te help om sekere masjinerie en gereedskap te vervang wat in die slag gebly het ná die vorige bestuur die munisipaliteit finansieël lamgelê het,” het sy verduidelik.

Volgens Swanepoel is dit hierdie tekort aan hulpbronne en geld wat soms daaglikse dienslewering kniehalter, maar sy wil graag die publiek gerusstel dat alle dienslewering, ten spyte van tekortkominge, steeds onverpoosd voortgaan.

“Dit is belangrik dat die publiek verstaan watter prosedures gevolg moet word om die basiese dienste in die dorp te lewer,” het sy gesê. “Die munisipaliteit sal binnekort die kontakbesonderhede van al die nuwe wyksraadslede bekend maak waarna inwoners met hulle betrokke wyksraadslede in verbinding kan tree oor probleme.”

Swanepoel het verder verduidelik dat raads- lede slegs by magte is om probleme in die dorp aan te meld waarna verskeie versoeke na die betrokke departemente verwys moet word om die werk fisiek te doen.

“Die publiek kan enige klagtes of navrae aan hul betrokke wyksraadslid rig waarna dit na die betrokke afdeling verwys word. Wat die paaie betref, meld die wyksraadslede probleme aan by die munisiapliteit se kliëntedienssentrum waar daar ’n sogenaamde werkskaart uitgereik word vir die navraag. Daarna word die verskeie werkskaarte by die administrasie afdeling bestudeer en daar word vasgestel of die nodige toerusting en gereedskap beskikbaar is om aandag aan die probleme te skenk.”

Sy het die publiek opnuut gemaan om geduldig te bly en inwoners verseker dat alle dienste aandag sal geniet.

“Omdat ons nie altyd oor die korrekte toerusting beskik nie, verloop daar soms baie tyd voordat daar aandag aan klagtes soos slaggate in die pad geskenk kan word, maar dit beteken nie dat ander dienste ook stilstaan nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button