CrimeNews

Verdagtes verbind met plaasaanval

’n Paar op-en-wakker polisiebeamptes van Bela-Bela het op Dinsdag 16 November toegesien dat vyf verdagtes wat met ’n onlangse plaasaanval in Settlers verbind word, agter tralies beland.

Die polisiebeamptes was op patrollie toe hulle net voor middernag ’n verdagte Mazda Drifter op die R576-pad tussen Codrington en Settlers opgemerk het.

Die voertuig is tydens ’n roetine-ondersoek afgetrek, het ’n polisiewoordvoerder by navraag gesê.

Die polisie het die voertuig deursoek en twee handwapens, ammunissie, ’n byl en kabelsnoere (“cable ties”) in die voertuig gevind.

Volgens die polisie word Isaac Mokwena (40), Morgan Mabunda (35), Sello Moshoadiba (46), Simon Huma (44) en Sizwe Chauke (24) met die aanval op Jannie en Christine Wolmarans van Settlers verbind.

Die egpaar is op Maandag 8 November vroegoggend op hul plaas in die Settlers- omgewing aangeval. Dit was die derde keer dat die gesin onder booswigte deurloop, het Jannie vroeër aan Die Pos gesê.

Christine het die huis se alarmstelsel geaktiveer waarna die verdagtes gevlug het. Juwele en ’n selfoon is gebuit.

Die beskuldigdes het reeds in die hof verskyn op aanklag van die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.

Twee van hulle word ook daarvan aangekla dat hulle onwettig in die land is, het die polisie gesê.

Hulle bly in aanhouding tot die volgende hofdatum op Vrydag 26 November.

Related Articles

Back to top button