CrimeNews

N1 verander in ’n oorlogsone

Die N1-snelweg tussen die Murrayhill- en die Wallwansthall-afritte het op Vrydag 19 November in ’n oorlogsone ontaard toe gewapende rowers op ’n geldwa toegeslaan het.

Stemboodskappe van motorryers het kort ná 10:30 die oggend op sosiale mediagroepe versprei oor die situasie op die snelweg. Van die ooggetuies het mense gewaarsku om die gebied te vermy aangesien die rowers ook op ander voertuie losgebrand het.

Arrive Alive het in ’n verklaring gesê dit lyk asof die rowers die bestuurder van die geldwa van die pad gedwing het. Drie veiligheidswagte wat in die wa was, is in die rooftog beseer, maar het oorleef.

Bewerings is deur ooggetuies gemaak dat die geldwa met plofstof oopgeskiet is.

Netcare 911 het aangedui dat die wagte nie geskiet is nie en behandel is vir beserings wat hulle opgedoen het toe die geldwa omgeslaan het.

Drie voertuie, insluitend die geldwa, is verwoes voordat die rowers van die toneel gevlug het in ander voertuie. Die rooftog het verkeer in albei rigtings op die snelweg met ure vertraag.

Volgens Bakwena N1/N4 se verteenwoordigers het die polisie se forensiese eenheid teen ongeveer 12:30 by die misdaadtoneel opgedaag.

Die verkeersvloei is eers teen 18:30 ten volle herstel. Geen verdere inligting oor die voorval is teen druktyd deur die polisie bekendgemaak nie.

  • Twee mans is op Saterdag 20 November in ’n voertuig vol patroongate op die Pankop-Pienaarsrivier/T-aansluiting gevind. Albei het gesterf aan skietwonde, het die polisie bevestig.

    Die polisie se brig. Motlafela Mojapelo het in ’n verklaring gesê die oorledendes is teen ongeveer 15:00 gevind nadat hulle ’n begrafnis in die Phake-nedersetting bygewoon het.

  • Twee mans is verlede naweek dood in hierdie voertuig naby Pienaarsrivier gevind. Die voertuig was vol koeëlgate. Die twee mans is glo ingewag en doodgeskiet. Foto: Verskaf
    “Terwyl hulle teruggery en die T-aansluiting genader het, het daar glo ’n onbekende groep verdagtes op die voertuig losgebrand. Die voertuig het in die bosse tot ’n stilstand gekom.”

    Die polisie het die oorledenes as Charles Sibanda en Julius Morifi geïdentifiseer. Hulle is na verneem word die voorsitter en sekretaris van die plaaslike Simunye-taxi-vereniging, het Mojapelo gesê.

    Nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Mense met inligting kan vir lt. kol. Richard Boshomane bel by tel. 079 894 5501 of die Pienaarsrivier-polisiestasie skakel.

  • Drie Zimbabwiërs het op Woensdag 17 November naby die Mantsole-weegbrug deurgeloop toe kapers op hul voertuig toegeslaan het. Volgens ’n woordvoerder van die Bela-Bela-polisie het die voorval teen ongeveer 21:15 plaasgevind.

    Die slagoffers, ’n man en twee vroue, was in ’n luukse Porche-voertuig onderweg na Zimbabwe.

    Die bestuurder het glo beplan om stil te hou sodat hul bestuurders kon ruil, het die woordvoerder gesê.

    ’n Grys Sedan-voertuig het luidens die klagstaat voor die slagoffers ingery en ’n passasier het ’n vuurwapen op die insittendes van die Porsche gerig en hulle sodoende tot ’n stilstand gedwing.

    Die rowers was gewapen en het die insittendes beveel om uit te klim waarna hulle met die Porsche weg is. Die slagoffers het op die snelweg teruggestap en hulp gaan soek by die personeel van die Mantsole-weegbrug.

    Die saak word verder ondersoek. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Related Articles

Back to top button