Local newsNews

Eienaar van kaasplaas groet die Waterberg

Die Geluksfontein-bokmelkkaasplaas en restaurant, ’n gewilde baken op die pad tussen Modimolle en Vaalwater, gaan ná 17 jaar sy deure sluit.

Christo Venter (61), ’n boorling van die Waterberg, het tydens ’n onderhoud aan Die Pos vertel dat die afgelope Covid-19-inperkings hom laat besef het dat hy ander sake-opsies moet oorweeg.

“Ná 17-jaar se voltydse bokmelkboerdery is dit nou tyd om iets nuuts aan te pak,” het hy gesê.

Venter verhuis eersdaags na Langebaan, ’n klein dorpie aan die Weskus, waar hy twee selfsorgeenhede as vakansieverblyf sal bestuur.

Die nuwe eienaars van Geluksfontein wil die plaas omskep in ’n kwekery met slegs inheemse plante.

Venter vertel dat hulle ongelukkig nie belang gestel het om die produktiewe bokmelkboerdery oor te neem nie, dus is al die toerusting en bokke intussen verkoop.

Venter, wat op ’n plaas in die Melkrivier-omgewing grootgeword het, was in Laerskool Melkrivier, ’n nostalgiese klein plaasskooltjie wat intussen sy deure gesluit het. Daarna het hy sy skoolloopbaan aan Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong voltooi.

Hy was vir ’n paar jaar in Gauteng, maar het in 2004 teruggekeer na die familieplaas op Melkrivier om ’n bokmelkboerdery op die been te bring met Saanen- en Britse Alpine-bokke.

Die boerdery het van krag tot krag gegaan sodat hy in 2010 sy eie plaas buite Vaalwater gekoop het.

Die sowat 400 bokke is daarheen verskuif en ’n gesellige restaurant het ’n gewilde eetplek vir inwoners van die Waterberg geword.

Venter vertel dat van sy bokmelkkaas- produkte al internasionale pryse ontvang het. Beleë cheddar, Gouda, Gouda met groenpeperkorrels of rissievlokkies, roomkaas rolletjies met vars kruie, swartpeper of rissievlokkies is maar net ’n paar van die smaaklike bokmelkkase wat Geluksfontein geproduseer het.

Hulle was ook die enigste bokmelkkaas- vervaardiger in die Waterberg-omgewing.

Venter was die afgelope 17 jaar betrokke by die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Dorset en Vaalwater. Daar het hy gepoog om die kommunikasiegaping tussen die polisie en die gemeenskap te oorbrug. Venter vertel dat hy in hierdie tyd dag en nag beskikbaar was om mense in nood by te staan.

“Die onlangse skielike dood van Barend Pienaar was vir ons almal tragies. Hy laat ’n baie groot leemte in ons gemeenskap en juis daarom wil ek jong manne in die omgewing motiveer om betrokke te raak by hierdie strukture, want dit strek tot voordeel van alle inwoners,” het hy gesê.

Venter het gesê hy wil graag al die inwoners en jarelange kliënte bedank vir hul vriendskap en getroue ondersteuning.

“Dit is beslis nie vir my maklik om die wonderlike Waterbergers agter te laat nie. ’n Stukkie van my hart sal altyd in die Waterberg agterbly.”

Mense wat hom wil kontak om te groet, is welkom om hom te bel by tel. 083 704 4229.

Related Articles

Back to top button