Local newsNews

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

Die inwoners van Emmastraat in Modimolle is in Augustus 2019 diep getref deur die wrede moord op een van die inwoners, Trudie Grebe. Lynette Venter, een van Grebe se buurvroue, het daarna onderneem om jaarliks ’n straatbraai te hou sodat die bure mekaar kan leer ken en ná die sukses van die eerste straatbraai het dit ’n instelling geword. Die Venters het ongelukkig intussen verhuis, maar Lélani en Corné Botha het vanjaar die voortou geneem en die tradisie voortgesit sodat al die bure (en ’n paar ekstra vriende) op Saterdag 20 November heerlik kon saamkuier terwyl die kinders in die straat fiets gery het. Volgens Lélani gee dit gemoedsrus dat al die bure per WhatsApp in kontak bly. Sy hoop dit inspireer ook ander inwoners om uit te reik en hulle bure te leer ken.
Die Waterberg-sakekamer het sy bedrywighede op Donderdag 18 November by die Weesgerus-vakansieoord buite Modimolle afgesluit. Die bestuur het op ’n terugblik van die jaar hul trots uitgespreek oor die totstandkoming van die Bela-Bela-sytak van die sakekamer (Belabiz). Ander hoogtepunte was die werkwinkels wat aangebied is deur die Public Private Growth Initiative (PPGI) en Gerhard Breytenbach, prokureur van die dorp, wat die munisipaliteit gereeld op hul tone gehou het oor buitensporige kragtariewe. Gereelde samesprekings met die munisipaliteit het ook vrugte afgewerp. Op die foto is Leon Binneman (FNB), Drummond Hammond (Bela-Biz), Estelle Mans (die Waterberg-sakekamer se sekretaresse), Fernando Gonsalves (sakekamer-voorsitter), Wiets Botes (sakekamer-lid) en Paul Smith (Engen en Total-verteenwoordiger).
Warmpatat: ’n Inwoner van Bela-Bela het die afgelope week hierdie foto’s aan Die Pos gestuur van die straatligte in Mentzlaan se bedrading. Dit lyk asof boosdoeners die drade uitgepluk het sodat die straatligte buite werking is en die dorp derhalwe in donker gehul is. Die dorp se stukkende straatlige word bykans weekliks by die munisipaliteit aangemeld. Die inwoner sê hy het ook die voorval aan ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy uitgewys en die verteenwoor-diger het aan hom gesê dat verskeie ander straatligte in die dorp só lyk. Volgens die inwoner het hy self ook die saak onder van die nuut-verkose raadslede se aandag gebring, maar tot dusver is dit nog nie herstel nie.
Die Covid-19-inperkings het Kobus en Liza Cohen Fourie van Bela-Bela se troue met byna twee jaar gekelder, maar nou kon hulle uiteindelik ’n heerlike makietie by Trekpad Safaris in Thabazimbi hou. Die paartjie vestig hulle in die Bela-Bela-omgewing waar hulle boer. Liza is ’n professionele jagter en wildbewaarder en daarom het trougaste heerlik gespot dat Kobus net saam op die wittebrood mag gaan indien hy ’n bok vinniger as sy vrou kan afslag. Foto: Herman Steyn
Ds. Pieter Malan en Deané van Aswegen van Bela-Bela is op Saterdag 17 Oktober in die huwelik bevestig by die pragtige Lalula-lodge in Dinokeng buite Pretoria. Pieter is die leraar by die Afrikaans Protestante Kerk (AP-kerk) in die dorp en Deané werk as onderwyser by Laerskool Warmbad. Pieter se ouers, Pieter en Jackie Malan, is reeds oorlede. Deané is die dogter van wyle Jannie van Aswegen en sy vrou, Marinda, jarelange inwoners van Bela-Bela.

Related Articles

Back to top button