CrimeNews

Dit was net genade

Wat ’n gesellige familie-uitstappie moes wees, het bykans op Saterdag 2 Oktober die lewe van ’n ma en dogter van Modimolle geëis.

Anne-Marie Kotzee (52) woon die afgelope 28 jaar op die plaas, Waterberg, 25 km buite Modimolle op pad na Vaalwater. Sy het destyds ná haar troue saam met haar man, Martin, daarheen verhuis. Hy het in 2014 aan kanker gesterf.

Die Kotzee-gesin het op die familieplaas aangebly terwyl Anne-Marie voortgegaan het met haar regspraktyk wat sy sedert 1997 in Modimolle bedryf.

Die egpaar se twee kinders, Mart-Marie (21) en Gerhard (19), is tans albei studente aan die Universiteit van Pretoria, maar aangesien klasse steeds aanlyn aangebied word, studeer en werk hulle van die plaas af. Mart-Marie het vroegoggend op Saterdag 2 Oktober vertrek om deel te neem aan ’n markdag in die omgewing.

Kotzee het omstreeks 11:00 in haar silwer Volkswagen Jetta gery om by haar dogter aan te sluit. Hulle het teen 13:30 oorweeg om met net een voertuig terug plaas toe te ry, maar het toe daarteen besluit, want Mart-Marie moes met haar voertuig stilhou vir brandstof.

Anne-Marie het aan Die Pos vertel sy het vroeër die dag gedink aan die ernstige motorongeluk vyf jaar gelede waarin sy, haar kinders en ’n vriendin van haar se dogter betrokke was. Dit het haar laat besluit om haar sitplekgordel heelpad aan te hou.

Ongeveer 5 km van die plaas af, duskant die Driefontein-afdraai, het ’n onverskillige bestuurder in ’n wit minibus met ’n sleepwa vermoedelik die voertuig agter haar verby gesteek, het sy gesê.

Sy sê al het daar voertuie van voor af aangekom en al was daar ’n sperstreep, het die bestuurder boonop ook haar voertuig verbygesteek. Die volgende oomblik was daar ’n geweldige slag toe die minibus reg van voor met ’n aankomende voertuig, ’n donkerblou Volkswagen Tiguan, gebots het.

Die impak van die ongeluk het die minibus tot bo-op Anne-Marie se voertuig geslinger. Die bestuurder van die Tiguan het beheer verloor en ook met die Jetta gebots.

Sover vasgestel kon word het die bestuurder, sy vrou en jong kind ernstige beserings opgedoen. Die bestuurder van die minibus en een van die passasiers het na verneem word dae later aan hul beserings beswyk.

Kotzee vertel: “Alles het so vinnig gebeur. Die een oomblik het ek nog gedink ek gaan die ongeluk vryspring en sekondes later het die minibus en sleepwa bo-op my voertuig beland.”

Sy het haar bewussyn verloor en wakker geword met bloed wat uit ’n diep snywond aan die linkerkant van haar kop stroom waar die sondak van haar voertuig haar vermoedelik gesny het.

Die voertuig se dak was heeltemal ingeduik en die deur aan die bestuurderskant kon nie oopmaak nie. Sy onthou dat die ontplooide lugsakke haar benoud laat voel het sodat sy uit desperaatheid deur die versplinterde voorruit na buite geklouter het.

Haar selfoon het iewers in die motorwrak beland, maar gelukkig het ’n jong man wat by die ongelukstoneel stilgehou het, gehelp om haar seun te bel. Hy was op die plaas en kon binne minute op die toneel wees.

Omdat die drie voertuie wat in die botsing betrokke was die hele pad versper het, kon Gerhard haar nie na Modimolle neem vir mediese behandeling nie.

Anne-Marie het saam met haar dogter, wat kort daarna by die ongelukstoneel opgedaag het (vanaf Modimolle se rigting), gery om mediese hulp te soek. Hulle het rondgebel maar oor naweke is daar bitter min opsies in die platteland. Gelukkig kon dr. Cas Breedt haar by sy spreekkamer in die Kokanje-aftreeoord help.

Hy het die kopwond met tientalle steke geheg en spesiale reëlings getref om X-strale te laat neem. Sy is vir verdere behandeling Pretoria toe waar sy op Sondag 3 Oktober by die MediClinic in Midstream behandel is.

Volgens haar het toetse getoon daar is geen breinbloeding of ander beserings nie en sy is dieselfde dag terug plaas toe.

“Ek het wel erge harsingskudding opgedoen en moes vir die volgende twee weke tuis aansterk weens intense hoofpyne, duiseligheid en verswakte konsentrasievermoë,” het sy gesê.

Sedertdien het sy weer halfdag begin werk. Anne-Marie het tydens die onderhoud vertel dat sy werklik die Here se teenwoordigheid tydens die ongeluk ervaar het, asook in klein detail voor en ná die gebeurtenis.

“Ek glo dit was ’n Goddelike ingryping dat die Here se hand van beskerming oor my was sodat ek nie gesterf of ’n ernstige breinbesering opgedoen het nie. Mense wat die motorwrak gesien het, kon nie glo dat ek sonder ernstige hoofbeserings of beenbreuke daar uitgeklim het nie,” het sy gesê.

“Ook my dogter se lewe is gespaar. Dit is waarlik onbeskryflike groot genade.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button