CrimeNews

Booswigte baie bedrywig net voor die feesseisoen

Die Bela-Bela-polisie waarsku inwoners dat booswigte elke jaar kort voor die feesseisoen baie bedrywig is.

Volgens ’n polisiewoordvoerder het ’n trokdrywer op Vrydag 15 Oktober onderweg na Thabazimbi, drie rylopers in Bela-Bela opgelaai en is sy trok kort daarna gekaap.

Luidens die klagstaat het die rylopers die indruk geskep dat hulle ’n geleentheid tot in Koedoeskop soek. Die trokdrywer is langs die pad afgelaai en die voertuig met voorraad is teen druktyd vandeesweek nog nie teruggevind nie.

Die tweede voorval het op Dinsdag 26 Oktober gebeur toe ’n man glo op die R101-pad na Hammanskraal van die pad getrek is deur verdagtes wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het.

Die Volkswagen wat in die voorval gebruik is, het volgens die slagoffer blouligte op gehad en die verdagtes het glimbaadjies gedra. Die klagstaat lui dat die slagoffer vasgebind en sy trok gekaap is.

Die trok is intussen in Pretoria teruggevind en ’n verdagte is in hegtenis geneem, het die woordvoerder gesê. Die saak is oorgeplaas na die Gautengse-ondersoekeenheid en die hofsaak sal daar voortduur.

Die derde voorval is op Vrydag 5 November by die polisie aangemeld. Luidens die klagstaat is ’n minibus taxibestuurder deur drie gewapende mans op die R101-pad naby die ATKV Klein Kariba-vakansieoord aangehou. Hulle het hom oorval nadat hy hulle opgelaai het.

Die verdagtes het die taxi gekaap en die bestuurder langs die pad afgelaai. Die minibus is later in ’n stuk veld tussen Bela-Bela en Modimolle gevind.

’n Dag later is nóg ’n saak aangemeld waar ’n slagoffer op die R101-pad naby die Mantsole-weegbrug aangehou is deur verdagtes wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het. Volgens die polisie is die slagoffer na Pretoria geneem en die verdagtes het hom gedwing om geld by ’n kitsbank te onttrek.

Sy bakkie is langs die R101-pad gelos. Die verdagtes het die man teruggebring na waar sy bakkie gestaan het en hom ongedeerd vrygelaat.

Inligting in verband met die laaste twee sake is onvolledig en word verder ondersoek.

  • Die polisie waarsku Waterberg-inwoners om op hul hoede te wees vir booswigte wat sake-eienaars teiken. Die mans gee voor hulle is amptenare van die ekonomiese ontwikkelingsdepartement en wil sake lisensies nagaan.

    Die sake-eienaar word dan gekonfronteer met vertroulike inligting wat in die swendelaars se besit is en die eienaar word oortuig dat daar uitstaande registrasie- of lisensiegeld is. Die boewe gee dan voor dat die sake-eienaar dadelik ’n bedrag moet betaal om groot boetes te vermy. Gevalle het reeds in Gauteng en in die Kaap voorgekom.

    Die polisie maan sake-eienaars om hul huiswerk goed te doen en nie vir hierdie slenters te val nie.

Related Articles

Back to top button