Local newsNews

‘Stop, stop! Ek is ’n spietkop’

Verskeie lesers het die afgelope tyd by Die Pos gekla dat hulle by padblokkades in die omgewing voorgekeer en aangesê is om summier uitstaande boetes in kontant te betaal.

Twee voorvalle het volgens inwoners, wat verkies om anoniem te bly, by ’n padblokkade net buite Bela-Bela plaasgevind.

Volgens ’n boer wat gereeld dié pad ry is hy afgetrek en daar is aan hom gesê dat sy lisensie toon dat hy uitstaande boetes het. Volgens die boer was die amptenare baie aggressief en is hy gedreig dat sy voertuig geskut sal word indien hy nie daar en dan ’n boete betaal nie.

Volgens hom het hy geweier om dit te doen en daarop aangedring dat hy ’n prokureur bel om na die toneel uit te kom. Volgens die boer is hy ná ’n lang relaas gesê dat hy “maar kan ry” — sonder om te betaal.

’n Sakevrou van die dorp was egter nie só gelukkig nie. Volgens haar het die beamptes gedreig dat sy in ’n vangwa gelaai sal word en polisiestasie toe geneem word as sy nie die uitstaande boetegeld betaal nie.

Sy het aan Die Pos gesê sy het geen kontant by haar gehad nie. Sy is egter gedwing om na ’n kitsbank te ry en die geld te onttrek.

Volgens haar is sy terug na die padblokkade waar die geld op die motor se enjinkap uitgetel en betaal is. Sy sê die boetes wat uitstaande was, is daarna van haar naam verwyder.

Talle mense het ook aan Die Pos gesê dat hulle sedert Maart 2020 opgehou het om hul posbusse te hernu, omdat die posdiens nie meer effektief of verbruikersvriendelik is nie. Dié mense het voorheen boetes per pos ontvang.

Indien boetes dus die afgelope twee jaar aan hulle uitgereik is, het baie van hulle dit dus nooit ontvang nie.

Die Pos het by ’n paar kenners gaan kers op steek oor wat die wet in voorvalle soos dié vereis.

Mike Maringa, provinsiale woordvoerder van die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid, het gesê:

“Indien boetes op die verkeersafdeling se stelsels opduik en die boete is nie teen die sperdatum vereffen nie, kan dit lei tot ’n lasbrief vir inhegtenisname. Wanneer dit gebeur, is daar geen ander manier hoe ’n motorlisensiehouer hulself “uit die situasie kan praat nie” en daarom moet die beampte wat ’n oortreder van die pad getrek het, die motorryer na die naaste polisiestasie vergesel waar die boete betaal moet word,” het hy gesê.

“Indien die datum wanneer die boete vereffen moet word eers later is, sal daar geen lasbrief uitgereik word nie. Lasbriewe word slegs uitgereik wanneer die spertyd oorskry is.”

Die padverkeeroortredingsagentskap (RTIA) het in Oktober kliëntedienssentrums in die provinsie geopen waar motorryers kan uitvind of hulle enige uitstaande boetes het.

Indien motorryers uitstaande boetes het, kan hulle via hierdie sentrums, of via hul plaaslike verkeersafdeling, reëlings tref om die bedrae te vereffen, het Maringa gesê.

Hierdie RTIA-sentrums moet nog na die Waterberg-omgewing uitgebrei word. Intussen kan motorryers, wat in die feestyd op die pad sal wees en moontlik met die gereg kan bots, kennis daarvan neem dat die Arrive Alive-webblad ’n omvattende weergawe het oor motorryers se regte en die rol van beamptes.

  • Polisielede of verkeersbeamptes mag nie bestuurders van motorfietse of voertuie fisiek of mondelings mishandel of iemand se eiendom beskadig nie.
  • Beampte mag nie ’n voertuig sonder ’n lasbrief deursoek, tensy dit by ’n goedgekeurde padblokkade gebeur of daar ander geldige omstandighede is dat ’n soektog uitgevoer moet word nie. Die motorryer moet goedkeuring gee om ’n voertuig te deursoek indien beamptes nie oor ’n lasbrief beskik nie, lui Arrive Alive se blad.
  • Mense moet kennis neem daarvan dat ’n enkele beampte en ’n amptelike voertuig nie deur die wet as “’n padblokkade” erken word nie. Beamptes wat alleen optree het magtiging om motorryers vir spoedoortredings, die bestuur van onpadwaardige voertuie, roekelose bestuur en bestuur onder die invloed van alkohol of narkotiese middels af te trek vir inspeksies.
  • Beamptes mag nie ’n motorryer dreig om hulle in hegtenis te neem sonder grondige redes of hulle verplig om boetes langs die pad te vereffen nie.
  • Indien daar nie ’n fasiliteit (gewoonlik ’n mobiele eenheid) by ’n padblokkade opgestel is waar ’n boete betaal kan word nie, kan die beampte gerapporteer word. Motorryers moet op ’n bewys van betaling aandring.
  • Indien ’n beampte die motorryer se lisensie weerhou, of dreig om dit te te doen totdat ’n boete betaal is, oortree die beampte self die wet. Die skut van voertuie moet te alle tye deur geldige redes vergesel word.
  • Die lisensiehouer mag aandring op ’n aanstellingsbrief van die beampte wat sy of haar funksie by die padblokkade uitvoer en ook vra dat die beampte ’n goedkeuringsdokument moet voorhou wat bewys dat die padblokkade wettig is.

Motorryers het egter, volgens Arrive Alive, ook self sekere verantwoordelikhede:

  • Arrive Alive raai mense aan om die saak direk met die plaaslike polisiestasiebevelvoerder op te neem indien verkeersbeamptes nie bogenoemde wetgewing nakom nie. Indien die bevelvoerder van geen hulp is nie, word mense aangeraai om regshulp in te win. Die motorryer mag onder geen omstandighede ’n beampte fisiek of verbaal aanval, hul eiendom beskadig, weier om ’n asemtoets vir dronkbestuur te neem of weier om in hegtenis geneem te word (indien daar geldige gronde bestaan), of omkoopgeld aanbied nie.
  • Dit is ’n oortreding van die wet om nie by ’n padblokkade stil te hou nie.
  • Arrive Alive waarsku motorryers om te alle tye respekvol teenoor beamptes op te tree, om vir ’n kopie van uitstaande boetes te vra en om die nodige stappe daarna te neem.
  • Indien beamptes onwettig optree of mense voel hul regte word geskend, kan hulle ’n Whatsapp stuur na die departement van vervoer se korrupsie-eenheid by tel. 082 804 4740 waar die klagtes direk by dié afdeling se bevelvoerder aangemeld sal word.

Mense kan ook klagtes per e-pos stuur na corruption@dtcs.gov.za(.) Vir navrae oor uitstaande boetes kan mense die padverkeeroortredeingsagentskap se webtuiste www.rtia.co.za besoek.

Related Articles

Back to top button