EntertainmentLifestyle

Valies hou Kersmark

’n Heerlike Kersmark word vir Saterdag 27 November by die boeresaal in Vaalwater beplan.

Heelwat stalletjies is reeds bespreek en die organiseerders is opgewonde oor die verskeidenheid watertandkos en lekkernye, oulike geskenke, kuns- en handwerk wat te koop sal wees.

Besoekers kan ook uitsien na ander interessanthede soos demonstrasies in die maak van jagmesse en kunstegnieke.

’n Vlugbalkompetisie en springkastele sal die jongmense ook besig hou. Die wildehond-bewaringsinisiatief (WWDI) en ander rolspelers in natuurbewaring sal ook interaktiewe uitstallings aanbied om gaste in te lig.

Die eerste boeresaal-mark wat in September gehou is, het alle verwagtinge oortref.

Daar was meer as 30 stalletjies en besoekers het van heinde en ver gekom om gesellig saam in die Bosveld te kuier.

Vroegdag het dit reeds gegons soos mense gesellig saam verkeer, kinders baljaar en musikante die lug gevul het met vrolike musiekklanke.

Kunstenaars soos Elizabeth Hunter, Joanne Roolvink en Rosemary Forster-Towne het uitgestal en was teenwoordig om met kunsliefhebbers te gesels.

By die Kersmark sal besoekers ook die werk van Clive Walker kan sien. Die boeresaal-mark sal voortaan kwartaalliks plaasvind om aan plaaslike kunstenaars, handwerkers en organisasies die geleentheid te bied om die Waterberg te bemark.

Die Kersmark vind op Saterdag 27 November by die boeresaal, op die hoek waar die Lephalale-pad uit Vaalwater se hoofstraat draai (oorkant Spar) plaas.

Mense wat stalletjies wil bespreek of meer inligting benodig, kan vir vir Laura Dowinton e-pos stuur na bookings@farmershall.co.za(.)

Related Articles

Back to top button