BlogsOpinion

Hoofartikel: Dit is net ‘af’

Die jongmense het ’n uitdrukking wanneer iets vir hulle op alle vlakke verkeerd is. Hulle sê iets is “nie aan nie”. Dis “net af”.

Limpopo het dringend ’n wonderwerk in die provinsie se munisipaliteite nodig.

Meer as ’n dekade se gierigheid, laksheid en onkunde in die staatsdiens het die provinsie in ’n krisis en sy mense in ongekende moedeloosheid gedwing.

Die druk op nuutverkose raadslede is enorm. Hulle fone hou nie op lui nie, hulle is dag en nag op munisipale terreine en daar word van hulle verwag om inwoners gereeld op hoogte van sake te bring.

Ironies, nogal, lyk dit nie asof iemand dié soort toegewydheid van die ANC-leierskap en hoëkop-amptenare, wat die munisipaliteite in hierdie krisis gedompel het, verwag nie. Die minderheidspartye se raadslede moet die kastaiings uit die vuur krap.

Foto: istock

Ons plattelandse dorpies het verval, ja, maar ons mense het langs die pad ook so effens uitgerafel.

Ons verwond mekaar daagliks en elkeen leef asof sy of haar verantwoordelikheid net tot by hul eie heinings strek.

Die jongmense het ’n uitdrukking wanneer iets vir hulle op alle vlakke verkeerd is. Hulle sê iets is “nie aan nie”. Dis “net af”.

Munsipaliteite, raadslede en amptenare regoor die land moet beslis hul sokkies optrek. Maar intussen kan inwoners sorg dat hulle die regte voorbeeld deur hul optrede stel.

Dit is byvoorbeeld nie aan om jou winkeltrollie net op die stilhouplek langs jou te laat staan nie. Stap maar die paar meter en gaan bêre die trollie by die ander trollies as daar nie iemand is wat dit teen vergoeding doen nie. En maak sommer seker die wiele is stewig sodat die trollie nie in iemand anders se voertuig vasloop nie.

Dit is nie aan om aanhoudend ligte te flikker omdat jy “haastig” is en daarom die spoedgrens in die dorp oortree nie.

Dit is nie aan om omkoopgeld aan verkeersbeamptes te betaal nie.

Dit is nie aan om anderpad te kyk as die stukkende straatlig, waterlekkasie, oop meterkas, vervalle parkie of rioollek nie rég voor jou eie huis is nie.

Dit is nie aan om rassistiese, kru of beledigende taal op Facebook te gebruik nie. Selfs al hou jy nie van die ANC, Julius Malema of beurtkrag nie.

Dit is nie aan om snedige boodskappe op openbare forums te laai of huishoudelike vullis langs die pad of op leë erwe te stort nie.

Wat doeltreffende munisipale bestuur betref, is dit wel nou “aan” om betrokke te raak by gemeenskapsorganisasies, raadsvergaderings en sakekamervergaderings by te woon, goeie buurmanskap toe te pas, bestuurslede en amptenare wat nie hul werk doen nie tot verantwoording te roep en verder te vee as net voor jou eie erf.

Dit is ook aan om diegene in die munisipaliteite (van die bestuurders tot by die skoonmakers) wat wél diensbaar is, se hande te help omhoog hou.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button