Local newsNews

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

’n Woonhuis is die afgelope naweek erg beskadig tydens ’n brand in Bothastraat in Bela-Bela. Nooddienspersoneel was gou op die toneel en geen ander eiendom het skade opgedoen nie. Volgens Scott Ramasetse, ’n huurder op die perseel, vermoed hy die brand het in ’n slaapkamer ontstaan. Ramasetse en ander inwoners wat hom te hulp gesnel het, het gepoog om meubels en besitting uit die huis te verwyder voordat die vlamme dit verwoes. Ramatsetse het ligte brandwonde aan sy hand opgedoen terwyl hy meubels probeer red het. Die vlamme het egter die meeste van die eiendom verswelg. Die polisie het die toneel op Maandag 15 November besoek en stel ondersoek in oor die ontstaan van die brand. Geen brandstigting word tans vermoed nie. Die eienaars van die huis was nie tuis toe die brand uitgebreek het nie. Mense wat die inwoners in hul nood wil help, kan Ramatsetse bel by tel. 073 786 6333.
Lizaan Faber van die Vroue Landbou-unie (VLU) se Naboomspruit-tak het ’n heerlike uitstappie vir lede van die Naboomspruit- en Mabalingwe-takke na die legendariese Ina Lessing van Modimolle gereël. Lessing het die vroue toegespreek en verras met ’n heerlike boere-ontbyt. Op die foto is Riana Oosthuizen (Bosveldstreek-voorsitter), Ria Strydom (VLU Noord-president), Lilian Weber (Soetdoringstreek-voorsitter), Neriche Lessing, Nicolet Lessing en die kleine Martene Lessing. Agter hulle staan Mariëtte van Wyk, Ina Lessing, Danie Lessing, Natan Lessing en Jana Lessing.

Related Articles

Back to top button