Local newsNews

Dié dorp is vol ‘flair’

Twee talentvolle vroue van Mookgophong het hulle kreatiewe talente ingespan en ’n digbundel-dagboek saamgestel.

Johanette Pretorius, ’n Afrikaanse onderwyser by Hoërskool Hans Strijdom in die dorp, en Corietha Müller, ’n plaaslike kunstenaar, het die pragtige gedigte van Pretorius en Müller se kunswerke in die vorm van ’n dagboek vir 2022 laat bind.

Die bekendstelling van die dagboek is tydens ’n geselligheid op Donderdag 28 Oktober by die Steek-My-Weg-restaurant buite die dorp gehou.

Gerda Swanepoel, bekende van Mookgophong, het van die gedigte voorgelees en nog ’n kunstenaar van die Waterberg, Cordier de Beer, het die 86 gaste met sy musiek bekoor.

Oorspronklike skilderye, waarvan die afdrukke in die dagboek verskyn, is ook uitgestal.

Die gaste het heerlik gesmul aan feestelike brode en bygeregte wat aan hulle voorgesit is.

“Ek het nie eintlik nuwe inspirasie gehad vir kuns nie en toe gedink om dit wat ek reeds het te gebruik. Ek wou die dagboek uniek maak en het vir Johanette gevra om haar gedigte deel daarvan te maak. Die reaksie is só fantasties en het my geïnspireer om weer te skilder. Dit is so ’n groot genade,” het Müller gesê.

Pretorius het gedurende die grendeltyd in 2020 begin dig en aanvanklik haar gedigte op haar Facebook-blad geplaas.

Die reaksie en aanvraag was só groot dat sy meer tyd daaraan gewy het en meer gedigte het uit haar pen gevloei.

’n Program op RSG, “Wys my jou poësie”, wat nuwe digters blootstelling gee, het die gedig wat eerste in die dagboek verskyn op die radioprogram uitgesaai. Intussen is vyf van Pretorius se ander gedigte op Litnet se webblad geplaas.

“Ek het my eerste gedig in April 2020 geskryf: “Stil Sand”. Ek is nederigopgewonde oor die geleentheid om van my gedigte te publiseer. Die digbundel-dagboek het my stoutste verwagtinge oortref en ek wens ek kon vir almal wat my gedigte lees, ’n kopie daarvan in die hand gee. Ek is baie dankbaar dat Corietha my gevra het om saam met haar hierdie avontuur aan te pak. My woorde is altyd in my kop en in my hart,” het Pretorius aan Die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button