MunicipalNews

Nuwe raadslid het groot planne vir Mookgophong se probleme

Marita Louw, ’n verteenwoordiger van die Vryheidsfront Plus, het vanjaar vir ’n klein opskuddig gesorg toe sy wyk 5 — wat tradisioneel ’n DA-wyk is — in Mookgophong verower het.

Die Pos het by haar gaan hoor wat haar planne vir die dorp behels. Wyk 5 strek van 1ste Straat tot 9de Laan en sluit ook die Gholfpark-aftreeoord in.

“Ek is opreg dankbaar vir die vertroue wat die kiesers van wyk 5 in die Modimolle-Mookgophong-plaaslike munisipaliteit in my gestel het om hul behoeftes en regte in die munisipaliteit te verteenwoordig,” het Louw gesê.

Louw is by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke en is oortuig daarvan dat die VF-Plus se beleid en waardes daadwerklike oplossings bied vir die huidige probleme wat die munisipaliteit in die gesig staar.

Volgens haar is verantwoordbaarheid en basiese dienslewering beslis ’n groot probleem in dié munisipaliteit.

Marcelle Maritz, VF-Plus se lid in die provinsiale wetgewer en provinsiale leier in Limpopo, het reeds die probleme met riool, watertoevoer en -gehalte in die munisipaliteit onder die menseregtekommissie (MRK) se aandag gebring.

’n Strafregtelike klag is intussen teen die munisipale bestuurder ingedien. Louw het onderneem om saam met ander VF-Plus-raadslede op hierdie goeie werk voort te bou en toe te sien dat die munisipaliteit die dienste aan inwoners lewer waarvoor hulle ten duurste betaal.

“Dit is vir my van kardinale belang om in my hoedanigheid as raadslid te veg vir ’n gesonde en veilige omgewing sodat ons gemeenskap ook ekonomies kan floreer. Wanneer iemand geborge voel sal hy of sy meer vir hul gemeenskap beteken. Ons kan slegs iets vermag as die gemeenskap saamstaan. Die onder- steuning van plaaslike ondernemings om die plaaslike ekonomie te stimuleer, lê my baie na aan die hart. Ek sal alles in my vermoë doen om die munisipaliteit weer aantreklik te maak vir beleggers,” het sy met selfvertroue gesê.

Sy het haar gelukwensing uitgespreek teen- oor al die kandidate wat verkies is en gesê sy sien daarna uit om hierdie uitdaging saam met almal aan te pak.

“Die harde werk begin nou eers. Staan op, staan saam, staan sterk. Saam kan ons die verval stop,” het sy as haar leuse bestempel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button