MunicipalNews

Só gaan sake waarskynlik in Bela-Bela lyk

Die nuwe munisipale raad van die Bela-Bela-munisipaliteit sal na alle aanduiding op Dinsdag 16 November ingehuldig word.

Die finale uitslae van die nasionale munisipale verkiesing dui daarop dat die ANC die meeste stemme verwerf het. Hulle sal 10 raadslede kan aanwys wat vir die volgende termyn in die munisipale raad dien.

Die ANC het altesame 17 200 stemme (55,82%), die DA 5 357 stemme (17,39%), die EFF 3 493 stemme (11,34%), die Vryheidsfront Plus (VF-Plus) 2 231 stemme (7,24%) en die Better Residents Association (BRA) het 756 stemme (2,45%) verwerf.

Die wyk-stemme, asook die proporsionele stemme, is in berekening gebring.

Van links na regs (ry 1): Pontsho Vision Mashaba (ANC), Johannes Mabua (ANC), Freddy Hlungwane (ANC), Henriëtta Ledwaba (ANC) en Jeremia Ngobeni (ANC). Ry 2: Shadrack Rachi-dumela (ANC), Koos Sepuru (ANC), Mary Koover (ANC), Tinus Ras (DA) en Johan Mills (DA). Ry 3: Rika Kruger (DA), Andries Sello Moswoeu (EFF), Catherene Baloyi (EFF), JeeDee Cloete (VF-Plus) en Joseph Makhubela (BRA).

Die feit dat daar slegs 15 694 kiesers uit die 31 267 geregistreerde kiesers gestem het, het ’n daadwerklike impak op die uitslag van die verkiesing gehad.

Die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) het bepaal dat die ANC 10 raadslede, die DA drie, die EFF twee, die VF-Plus een en die Better Residents Association ook ’n verteenwoordiger op die Bela-Bela munisipale raad kan aanwys.

Die waarskynlike ANC-raadslede sluit in Pontsho Vision Mashaba (wyk 2), Johannes Mabua (wyk 3), Freddy Hlungwane (wyk 4), Henriëtta Ledwaba (wyk 5), Jeremia Ngobeni (wyk 6), Shadrack Rachidumela (wyk 7), Koos Sepuru (wyk 8) en Mary Koover (wyk 9).

Die negende en tiende persoon wat tot die raad gevoeg kan word, is moontlik Nelly Zikhali en Gloria Seleka, wat volgens die OVK se proporsionele lys van kandidate eerste in aanmerking kom vir ’n posisie op die raad.

’n Lys van burgemeesterskandidate het teen druktyd die ronde op sosiale media gedoen en aangedui dat Zikhali, asook twee ander PR-kandidate, wat Seleka en Debang Ledwaba insluit, die kandidate op die kortlys is.

Navrae aan die ANC se streekbestuur oor die moontlike kandidate vir die burgemeester was teen druktyd onbeantwoord.

Die uitslae toon dat die ondersteuning van die ANC en die DA in Bela-Bela gedaal het, terwyl die VF-Plus se steun toegeneem het.

Tinus Ras, DA-kandidaat, het wyk 1 met 2 631 stemme gewen. Die DA kon geen ander wyk in die dorp verower nie.

“Ons is baie teleurgesteld met die uitslae. Ons was oortuig daarvan dat ons baie beter sou doen,” het Ras by navraag gesê.

Volgens alle waarskynlikheid sal Johan Mills en Rika Kruger die twee ander DA-raadslede word. Mills is jare lank nou betrokke by die dorp se sake en is die voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum.

Kruger het begin 2021 die plek van Rachel Masemola, DA-raadslid, oorgeneem nadat Masemola oorlede is. Sy is ’n gesoute politikus en het ervaring as raadslid en lid van uit-voerende komitees waar sy op ander stadsrade gedien het.

Die EFF se twee voorgenome kandidate wat raadslidposte gaan vul, is Andries Sello Moswoeu en Catherene Baloyi. Moswoeu was die afgelope vyf jaar die EFF-raadslid by die munisipaliteit.

Teen druktyd het die EFF nie hul kandidate bevestig nie. Die VF-Plus het geskiedenis in Bela-Bela gemaak deur vir die eerste keer nou ook ’n raadslid te hê.

JeeDee Cloete, VF-Plus-kandidaat, het in reaksie gesê hy aanvaar die uitda-ging om raadslid te wees. Cloete is gebore en getoë in Bela-Bela en het gesê as sakeman, gesinsman en trotse inwoner, onderneem hy om om te sien na die belange van die belastingbetaler.

“Die groot uitdaging is nou om almal te kry om saam te werk, want daar is soveel projekte wat ons moet uitbrei wat tot voordeel van alle inwoners is. Ons is juis besig met ’n werkskeppingkonsep wat broodnodig in ons dorp is,” het hy gesê.

“Ek geniet reeds goeie samewerking van die munisipaliteit. Saam kan ons berge versit indien almal eerlik saamwerk.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button