Local newsNews

Dringende optrede teen vee-eienaars gevra

Bela-Bela se probleem met rondlopervee wat motorongelukke veroorsaak, sal onopgelos bly totdat die polisie, regering en vee-eienaars hul verantwoordelikhede nakom.

Só het Marc Ward, stigter van die Have a Heart Foundation van Kaapstad. op Donderdag 4 November by die Towoomba-landbounavorsingstasie buite die dorp aan rolspelers gesê. Die organisasie spesialiseer in die welstand van mishandelde diere.

Ward se organisasie is reeds maande in die omgewing bedrywig waar hulle veral mishandelde diere soos donkies skut en in ’n veilige hawe plaas. Sy personeel het, by gebrek aan ’n amptelike skut, gemoeid geraak met die rondlopervee-probleem in Bela-Bela en mag nou ook probleemdiere skut en verwyder.

“Ek het die afgelope tyd talle oproepe ontvang van inwoners en besoekers wat geskok is oor die hantering en mishandeling van veral donkies. Die donkiekarre word dikwels gebruik om vragte hout, wat onwettig bekom is, weg te ry,” het hy gesê.

“Toeriste in die Waterberg-omgewing het gesê die maer rondlopervee op die dorp se toegangsroetes is lankal ’n doring in die vlees. Behalwe dat dit groot gevaar vir motorryers inhou, is dit ook ontstellend om die verwaarloosde diere te sien. Dit ontmoedig mense om weer hier besoek af te lê.”

Ward het gesê hoewel die Bela-Bela-munisipaliteit van die beste munisipale wetgewing in die land tot hul beskikking het, is hierdie wetgewing nog nie in die staatskoerant gepubliseer nie.

Dit het tot gevolg dat die plaaslike owerheid nie daadwerklik kan optree nie.

Dié wetgewing stel dit duidelik dat vee-eienaars hul vee op ’n veilige afstand van openbare paaie moet hou en dat ’n veewagter die vee heeltyd moet oppas. Vee-eienaars moet ook aan voorskrifte voldoen wat slegs ’n sekere aantal vee per hektaar toelaat. Die eienaar moet ook bewys dat daar voldoende voeding en water vir die vee is en bereid wees om veeartsenykundige dienste te dek indien dit nodig is.

“Terwyl ons wag dat die wetgewing in die staatskoerant gepubliseer word, is die enigste oplossing om ingevolge die nasionale dierewet op te tree: As mense rondlopervee sonder ’n veewagter sien, of diere wat mishandel word, kla ons die eienaars van dieremishandeling en nalatigheid aan en kan hulle in hegtenis geneem word.”

Die naaste erkende privaat skut is by die André Kock en Seun-veilingkrale buite Bela-Bela. Die diere kan slegs deur ’n privaat maatskappy geskut word indien die polisie hul opdrag gee.

Rolspelers op die vergadering het aangedui daar is ’n behoefte aan ’n veilige weidingskamp wat goed omhein is waar diere voorlopig ingejaag kan word terwyl die ondersoek voortduur. So ’n stuk grond is egter nog nie uitgewys nie.

Ward het aangedui dat sy organisasie tot die befondsing van so ’n projek sal bydra.

“Inwoners van die Bela-Bela-township loop ook deur onder die rondlopervee. Hul privaat eiendom word betree en beskadig. Inwoners tree dan aggressief op en ons het verskeie voorvalle gehad waar diere met kookolie gegooi is of met skerp voorwerpe gesteek is. ’n Oplossing vir die probleem moet dringend gekry word,” het Ward gesê.

“Gesprekvoering werk lankal nie meer nie. ’n Blywende en werkbare oplossing moet verkry word. Die mishandeling van diere is soortgelyk aan mishandeling van kinders. Almal veroordeel dit, maar niemand wil betrokke raak nie. Vervolging is al wat nou kan help.”

’n Opvolgvergadering is reeds belê. * Die Bela-Bela-munisipaliteit kon by navraag geen aanduiding gee van wanneer die wetgewing in die staatskoerant sal verskyn nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button