NewsSchools

Jaar van eerstes vir die Boompies

Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong is vanjaar vol “eerstes”.

Hulle het vir die eerste keer ’n skaaktoernooi en die Tour de Boompies-bergfietskompetisie aangebied.

Die skaak het groot belangstelling gelok en 70 leerders van die laerskool en Euphorbiaskool in die dorp het op Maandag 25 Oktober aan die toernooi deelgeneem. Die toernooi is deur twee onderwysstudente van Laerskool Eugène N. Marais, Marli du Toit en Zarco Scherman, gereël en die deelnemers is selfs met ’n kolwyntjie in die kleure van ’n skaakbord bederf.

“Die leerders het kosbare ondervinding opgedoen. Die Boompies sien daarna uit om hierdie toernooi weer aan te bied,” het Marina Gravett, skoolhoof, gesê.

Die skool se eerste interne bergfietsbyeenkoms,“Tour de Boompies”, is op Dinsdag 26 Oktober gehou en 80 leerders van gr. RR tot gr. 7 het ingeskryf.

Chantelle Gouws van Mookgophong het die eerste bergfietswedren wat deur Laerskool Eugène N. Marais aangebied is, in haar ouderdomsgroep gewen. Op die foto wys sy met trots haar sertifikaat.

“Dit was ’n baie suksesvolle byeenkoms met baie nuwe deelnemers. Van hulle het splinternuwe fietsryhelms en sportdrag gekry en was paraat om deel van die geskiedkundige gebeurtenis by die skool te wees,” het Karin du Toit, onderwyser en organiseerder, gesê.

Chantelle Gouws, wat gekies is om Limpopo tydens die Suid-Afrikaanse Bergfiets XCO-kampioenskap op Saterdag 25 September in Pietermaritzburg te verteenwoordig, het haar ouderdomsgroep in die Tour de Boompies-wedren gewen.

Volgens Du Toit is Chantelle een van die beste fietsryers in haar ouderdomsgroep in Limpopo en nét die topfietsryers in die land word gekeur om aan hierdie kampioenskap deel te neem.

Sy het ongelukkig ’n besering opgedoen en het nie die kampioenskap-wedren voltooi nie.

Related Articles

Back to top button