MunicipalNews

Thabazimbi-munisipaliteit berei voor vir nuwe termyn

Kiesers van Thabazimbi het op Maandag, 1 November, hul kruisies tydens vanjaar se munisipale verkiesing getrek.

Die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) het die volledige uitslae op Donderdag 4 November bekend gemaak.

Die African National Congress (ANC) het vanjaar se verkiesing oorheers met 47,40% van die stemme. Daarmee saam het dié party 11 sitplekke op die munisipale raad verseker.

Die tweede sterkste party in die munisipale gebied was die Demokratiese Alliansie (DA) met ongeveer 15,30% van die stemme, wat beteken dat daar vier sitplekke op die munisipale raad vir dié party beskikbaar is.

Die Thabazimbi Residents Association (TRA) het 11,02% van die stemme ontvang en sal drie sitplekke in die munisipale raad opneem.

Die Economic Freedom Fighters (EFF) se steun het effens gedaal in vergelyking met die vorige termyn. Hulle het 10,38% van die stemme verwerf en dit besorg aan hulle twee sitplekke op die raad. Die Vryheidsfront-Plus (VF-Plus) daarenteen het heelwat groei getoon en sal vir die komende termyn twee sitplekke op die raad hê. Hulle het 9,03% van die totale stemme ontvang.

Die Thabazimbi Forum for Service Delivery (TFSD), wat in die vorige termyn geen sitplekke op die munisipale raad gehad het nie, het vanjaar 3,40% van die stemme ontvang en sal ook ’n verteenwoordiger op die raad hê.

Oupa Pilane, verteenwoordiger van die OVK, het aan Die Pos verduidelik dat daar vanjaar ongeveer 44 000 kiesers in die Thabazimbi munisipale gebied geregistreer het om te stem, maar dat slegs 18 997, oftewel 41,30% van dié kiesers, uiteindelik hul stembriewe in die busse gegooi het.

Die finale lys raadslede wat vir die komende vyf jaar uit 12 raadslede en 11 proporsionele raadslede sal bestaan, was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.

Pilane het bevestig dat dié inligting eersdaags beskikbaar sal wees.

Die amptelike inhuldiging van nuwe raadslede vind op Donderdag 18 November om 10:00 in die Trollop-saal by Thabazimbi-skougronde plaas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button