MunicipalNews

Laat daar tog net lig wees, smeek inwoners

Groot gedeeltes van Modimolle was (weer) op Maandag 25 Oktober etlike ure sonder elektrisiteit weens ’n hoogspanningskabel wat naby Hoërskool Nylstroom se sportvelde uitgebrand het.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, is die probleem reeds vroegoggend aangemeld.

Die tegniese span het omstreeks 11:00 die foutiewe plek waar die hoogspanningskabel uitgebrand het, opgespoor en dit oopgegrawe.

Die herstelproses het egter heelwat uitdagings gehad weens die ringvoerder wat foutief is en talle swak plekke op die kabel wat al voorheen herstel is.

Piet du Toit van Modimolle hou die foutiewe kragkabel vas wat die oorsaak was van die frustrerende kragonderbreking op Maandag 25 Oktober.

Groot gedeeltes van die woongebied in die dorp (Wyk 12) is hierdeur geraak.

Die gedeelte vanaf Thabo Mbeki- en Kerkstraat tot by Boshoff- en Gholfstraat, asook die hele Koro Creek-gholflandgoed, Abraham Kriel-kinderhuis en die MDR-Covid-19-hospitaal is vanaf 05:00 tot omstreeks 18:00 sonder krag gelaat.

Die Pos het by Piet du Toit, jarelange inwoner van Modimolle, gaan kers opsteek oor die situasie. Du Toit is ’n kenner op die gebied en het bykans 25 jaar vir Eskom gewerk totdat hy in 1999 afgetree en na Modimolle verhuis het waar hy betrokke gebly het by die munisipaliteit se tegniese span.

Hy het verduidelik dat hierdie probleme hoofsaaklik weens ’n gebrek aan instandhouding van die dorp se elektriese infrastruktuur gebeur.

Daarmee saam veroorsaak beurtkrag ernstige skade aan hoogspanningskabels weens die skielike kragstuwing wat plaasvind sodra die elektriese stroom weer aangeskakel word.

Weerlig kan tydens die somermaande ook ’n kragstuwing veroorsaak wat hoogspanningskabels kan laat brand op plekke waar die isolasie mettertyd verswak het.

“Elke lasplek in die kabel verswak die algehele vermoë daarvan,” het hy verduidelik.

Daar is vermoedelik minstens drie hoogspanningskabels in hierdie gedeelte van die dorp wat volgens Du Toit reeds vier jaar gelede vervang moes word weens die verskeie swak- en lasplekke. Dit is vermoedelik die rede waarom die herstel van die kragkabels wat op Dinsdag 12 Oktober tydens beurtkrag (19:00 tot 21:00) gesteel is, bykans 24 uur geneem het om te herstel.

Die kragnetwerk bestaan uit kabels wat vanaf elke substasie herlei word deur ringvoerders. Hierdie ringvoerders maak dit moontlik om foute op die kabels te isoleer en dan te herstel, maar steeds die res van die gebied van krag te voorsien, het Du Toit verduidelik.

Wanneer die ringvoerders en die res van die infrastruktuur nie onderhou word nie, word kragvoorsiening onderbreek vir die hele tyd wat dit neem om die kabels te herstel.

Related Articles

Back to top button