CrimeNews

Vandale doenig in Mookgophong

Vandale het die afgelope week baie skade in Mookgophong aangerig toe verskeie padtekens en ander kennisgewingborde beskadig is.

Trevor Webster van die verkeersafdeling in die dorp was baie ontsteld oor die beskadiging van munisipale eiendom.

“Vandale besef nie watter skade hulle veroorsaak en dat hul optrede ander se lewens in gevaar stel nie.” Vandale moet weet dat hulle swaar gestraf sal word indien hulle aangekeer word. Vandalisme is ’n kriminele oortreding en oorterders kan aangekla en selfs tronkstraf opgelê word,” het hy gesê.

Dit is nie die eerste keer dat vandale vanjaar in dié dorp toeslaan nie. Plante en potplanthouers is ook onlangs in Gholfpark verniel en gesteel. Die kennisgewingborde van eiendomsagente het ook deurgeloop en is só erg beskadig dat dit nie weer gebruik kan word nie.

Verskeie verkiesingsplakkate is van lamppale afgeruk en stukkend geskeur. Volgens Webster is selfs van die stoptekens verwyder.

“Dit is ontstellend dat die kwaaddoeners die verkeerstekens by Laerskool Eugène N. Marais, waar die kinders daagliks die pad oorsteek, só verniel het dat dit ’n noodlottige ongeluk kan veroorsaak. Ons is op die verdagtes se spoor en gaan hulle vastrek,” het hy gesê.

  • *AfriForum het in 2018 altesame 10 verkeerstekens gekoop wat regoor die dorp by kruisings opgerig is waar verkeerstekens ontbreek het.

Stoptekens wat deur vandale met spuitverf beskadig is, is toe ook met nuwes vervang.

“Dit is ons bydrae tot ’n veilige dorp,” het Van Staden, wat die voorsitter van AfriForum in die dorp is, destyds aan Die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button