MunicipalNews

Só werk dit Maandag by die stembus

Meer as 120 000 kiesers is in die Waterberg-omgewing geregistreer om op Maandag 1 November vir die party en kandidaat van hul keuse tydens die nasionale munisipale verkiesing te gaan stem.

Dit is ’n nasionale vakansiedag om almal die geleentheid te gee om te gaan stem.

Die proses sal as volg werk:

  • Die stempunte sal op Maandag 1 November oop wees vanaf 07:00 tot 21:00. Bejaarde of gestremde kiesers mag na die voorpunt van die ry geneem word om eerste te stem.
  • Kiesers kan seker maak of hulle persoonlike inligting, asook die korrekte stempunt waar hulle kan stem, op die kieserslys is deur hul ID-nommer te SMS na tel. 32810. Geen kieser kan tans herregistreer om elders te stem nie.
  • Spesiale stemme word tussen Saterdag 30 Oktober en Sondag 31 Oktober ingevorder.
  • Geregistreerde kiesers wat gestremd is of nie in staat is om die kiespunte op verkiesingsdag te besoek nie, sal deur middel van ’n huisbesoek hul stemme aan OVK-beamptes kan indien.
  • OVK-beamptes sal kiesers op verkiesingsdag by die stempunte se ingange ontmoet, waar die kieser ’n geldige groen ID-boek, ID-kaart of tydelike ID-sertifikaat moet toon.
  • Die onderskeie kantore van die departement van binnelandse sake sal vanaf 07:00 tot 21:00 tussen Saterdag 30 Oktober en Maandag 1 November oop wees vir mense wat ID-probleme ondervind en hul ID’s wil vervang om te kan stem.
  • Indien mense se name nie op die kiesersrol by die stempunt bestaan nie, moet die kieser bewys dat hulle tydens die herregistrasienaweek in September nie by hul stempunt kon herregistreer nie. Vir sulke mense om in aanmerking te kom om te stem, moet hul name op ’n vooraf goedgekeurde lys (’n MEC7-lys) wees, wat bevestig dat hulle weens vertragings by die stempunt vroeër nie kon registreer nie.
Op die foto’s is voorbeelde van stembriewe wat nie getel kan word nie.
  • Elke kieser ontvang ’n strokie as hul naam op die kiesersrol verskyn, hul duim word met spesiale ink gemerk en hulle ontvang ’n stembrief wat agterop elke bladsy gestempel moet wees. Die ink is om te verseker dat mense nie twee keer stem nie.
  • Kiesers moet hul kruisies op drie verskillende stembriewe trek: Vir ’n wykskandidaat (wit en grys stembrief), die party van hul keuse (geel stembrief), asook vir die party wat op die distriksmunisipaliteit moet dien (groen stembrief).
  • Die kieser se kruisie moet binne die korrekte ruimte op die stembrief gemerk word. Moet geen ander merke op die stembrief maak nie. Dit sal as ’n bedorwe stembrief beskou word.
  • Indien die kieser ’n fout maak op die stembrief, moet hy of sy ’n OVK-beampte nader en die stembrief vervang.
  • Geen foto’s mag in die stemlokaal geneem word nie. Dit is ’n kriminele oortreding. Selfs OVK-beamptes mag nie foto’s van stembriewe waaroor ’n dispuut ontstaan het, neem nie.
  • Politieke partye mag nie by die ingange van stemlokale werwing doen nie. Die OVK se voorsittende beampte by die onderskeie stempunte kan ’n party verkla of versoek om die terrein te verlaat.
  • Partyagente van die onderskeie politieke groepe mag binne die kiespunte wees. Hulle rol is om die verkiesingsproses te moniteer en probleme aan te meld, maar hulle mag nie enige partyembleme binne of buite die kiespunt dra nie.
  • Die stempunte sluit om 21:00 waarna geen verdere stemme ingedien mag word nie. Die tel van die stemme volg daarna.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button