Local newsNews

Hou troeteldiere dié seisoen veilig

Met die draai van die seisoen, begin al hoe meer tuiniers in hul tuine woeker.

Wat inwoners nie altyd besef nie, is dat baie tuinblomme lewensgevaarlik vir troeteldiere kan wees.

Die Pos het by dr. Jamiela Barnard van Medivet Dierekliniek in Thabazimbi gaan kers opsteek hieroor.

“Ek het besluit om bewustheid te skep oor plante wat giftig is vir diere omdat ek al hoe meer voorvalle sien van diere wat vergiftig word,” verduidelik Barnard.

“Baie van ons gunstelingtuinplante is skadelik vir diere.”

“Ons het byvoorbeeld onlangs ons eerste hond hierdie seisoen verloor toe ’n inwoner se tweejarige rottweiler aan ’n broodboom gekou en vergiftig is.”

Barnard het ’n uitstalling by die Bosloerie Kwekery aangebied waar sy inwoners kon bereik wat tuinmaak, maar nie noodwendig gereeld by die plaaslike veearts kom nie. Dit is belangrik om inwoners vroegtydig in te lig oor die gevare van toksiese plante vir hul troeteldiere, het sy gesê.

“Ek wou die uitstalling so gemeenskapsvriendelik moontlik hou sodat jonk en oud kon toegang hê tot elke plant, kon sien hoe dit lyk, daaraan kon vat en dit bestudeer. Dit is danksy genoegsame kennis dat ons die dieregemeenskap van Thabazimbi kan beskerm.”

Sy het verder verduidelik dat die ekonomiese impak van die Covid-19-pandemie en die werkverliese wat daarmee gepaard gegaan het, ook ’n groot invloed gehad het op hoe mense hul diere versorg en medies behandel.

“Mense het ongelukkig deesdae nie meer geld om duur behandelings en medikasie vir hul diere te bekostig nie. Dit het daarom gereeld gebeur dat mense verkies het om hul diere te laat uitsit, wat baie hartseer is. Ons moet alle situasies vermy wat gevare vir troeteldiere kan inhou.”

As troeteldiereienaar hoef mense nie te kies tussen ’n mooi tuin en die veiligheid van diere nie, want daar is ’n goue middeweg waar albei kan gedy.

Verskeie vetplante soos woestynrose en vygies hou geen gevaar vir honde of katte in nie. Kruie, takbokvarings, bromelias en skoonma-se-tonge is ook baie goeie opsies om in diere-vriendelike tuine te plant. Om tuin meer kleur te gee, kan mense vygies, gloxinia-blomme en hen-en-kuikens plant. Daar is natuurlik ook verskeie plantsoorte wat as voedsel vir diere voordeel inhou.

“Baie mense dink hulle doen hul dier ’n guns om net hoenderlewer of ’n rou dieet te voer, maar dit kan ook gevaarlik wees. Groente en vrugte is noodsaaklik in ’n dier se dieet. As honde nie ’n gebalanseerde hondekosproduk gevoer word nie, moet dit aangevul word met groente en selfs vrugte,” verduidelik sy.

Die groente moet rou maar gewas of net in ’n bietjie water opgekook word. Geen speserye of sout moet gebruik word nie. Wortels- en appelstukkies is ’n goeie alternatief vir die gevaarlike bene wat mense hul honde gee om te kou. Plantprodukte het baie minerale en vitamiene in wat goed is vir troeteldiere.”

Wanneer ’n mens jou tuin vir die volgende seisoen beplan is dit belangrik om meer ingelig te wees oor watter plante potensieel skadelik kan wees vir diere.

Plante soos sagopalms, broodbome, rubberplante en aalwyne is byvoorbeeld baie skadelik vir diere en kan maag- of blaasprobleme veroorsaak. Blomme soos lelies, lantana, azaleas, tulpe en affodille kan ook baie skadelik vir troeteldiere wees.

Dagga is ook uiters skadelik vir troeteldiere. Indien diere wel enige van dié gevaarlike plantsoorte inkry, moet die diere so gou moontlik by ’n veearts uitkom, het Barnard gesê.

Mense wat ver van die dorp woon, kan in sulke gevalle die volgende doen:

Neem die plant weg sodat die dier nie verder daaraan kou of raak nie. Spoel dadelik die bek, pels en oë met skoon lopende water af, maar vermy melk in sulke gevalle.

Voel vir dorings en haal dit uit. Bêre die plant of ’n gedeelte daarvan as jy nie die naam ken nie, sodat ’n veearts dit kan identifiseer en die regte behandeling toepas.

Indien dit ’n plant is wat maagwerkings en braking veroorsaak, is dit belangrik om die troeteldier geaktiveerde houtskool en baie vloeistof te gee. Brood kan ook help om die hond of kat se maag te stol. Indien die plant neurologiese of ander ingewande skade veroorsaak, sal die dier begin bewe en pap word.

In sulke gevalle kan ’n mens braking aanhelp om van die plantweefsel ontslae te raak. Braking kan gestimuleer word deur ’n kluitjie te maak met wasgoedpoeier wat jy verkry deur dit effens klam te maak en dan in die dier se bek te sit.

Plante wat veluitslae gee kan gewoonlik goed genoeg tuis behandel word met ’n goeie bad, antihistamien- en kortisoonsalf of selfs ’n bietjie bababoudjie-salf indien daar niks anders is nie.

“Dit is beter om ’n veearts te kontak en video’s of foto’s te stuur sodat die regte proses gevolg kan word. Die beste raad is om die dier so gou moontlik na jou naaste veearts te neem vir doeltreffende behandeling.”

Related Articles

Back to top button