Local newsNews

Laat jul stemme tel!

Die handves van menseregte in Suid-Afrika se Grondwet verleen aan alle burgers van 18 jaar en ouer stemreg, maar die vraag wat dikwels gevra word, is of stem werklik ’n verskil sal maak?

Die Pos het dié vraag aan verskeie amptenare in die dorp gevra.

“Ons land gaan op Maandag 1 November 2021 weer stembus toe om aan die munisipale verkiesing deel te neem. Op dié dag stem ons om raadslede te kies wat vir die volgende vyf jaar ons dorp en sy mense sal verteenwoordig op die munisipale raad, daarom dra jou stem groot waarde,” het Thane Hearne, huidige speaker van die Thabazimbi-munisipaliteit, gesê.

“Ons moet probeer om ’n funksionele en toegewyde raad te verkies, met raadslede wat vasberade is om almal se belange en die belange van die dorp aan te spreek. Net een stem in ’n wyk kan bepaal wie die raadslid vir daardie wyk word. Daarin lê die belangrikheid van jou stem,” het sy uitgebrei.

“Kiesers bepaal die samestelling van hul munisipale rade en daarom moet mense wat nie gaan stem nie, nie kla nie.”

Volgens Oupa Pilane, verteenwoordiger van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in Thabazimbi, het ongeveer 44 000 inwoners van dié dorp vanjaar geregistreer om te stem.

Dit beteken dat tussen 50% en 60% van die dorp se inwoners, wat oud genoeg is om te stem, vanjaar hul kruisie gaan trek.

Frik Erasmus, proporsionele raadslid van die Thabazimbi-munisipaliteit, stem met Hearne saam dat kiesers die mag het om te besluit wie aan die stuur van sake in hul dorpe sal wees.

“Moenie net wegbly nie. Gaan stem, want jy kies die persoon wat jou verteenwoordig in die wyk waar jy bly,” het hy gesê.

Kiesers stem ook vir die party wat hulle in die munisipaliteit proporsioneel moet verteenwoordig en ook in die distriksmunisipaliteit.

“Hierdie is ’n gulde geleentheid vir inwoners om die regte kandidate te kry sodat munisipale sake kan verbeter.”

“Hierdie verkiesing is seker die belangrikste verkiesing, want dit gee die geleentheid om die verval en afdraande pad waarop alle munisipaliteite is, stop te sit,” het hy gesê.

Raadslid Tokkie Swanepoel het gesê: “Dit is ons almal se demokratiese reg om te stem én ons verantwoordelikheid om te sorg dat die regte van alle inwoners beskerm word. Om te stem beteken dat jy ’n verskil maak.”

David Gouveia, proporsionele raadslid van Northam, het gesê: “As jy verandering wil hê, moet jy vir verandering stem. Dit is al hoe mens ’n verskil kan maak.”


Só maak jy Maandag by die stembus:

  • Jy mag net stem in die wyk waar jy geregistreer is.
  • Neem ’n geldige ID-boekie, ID-kaart of ’n tydelike ID-dokument saam.
  • Die stembusse open om 07:00 en sluit om 21:00
  • Wanneer jy by jou stemlokaal aankom sal daar amptenare wees wat op die kieserslys nagaan of jy wel geregistreer is om in daardie spesifieke wyk te stem. Indien jou besonderhede op die kieserslys verskyn, sal hulle ’n verwysingsnommer invul en oorhandig. Hierdie verwysingsnommer sal die OVK-beamptes in die stemlokaal help om die betrokke kieser se inskrywing maklik op die kieserslys te kry.
  • In die stemlokaal sal elke kieser drie stembriewe ontvang: Die eerste een is wit en grys en op hierdie stembrief stem kiesers vir die kandidaat wat hul kies om die wyk op die munisipale raad te verteenwoordig. Die tweede stembrief is geel van kleur en dit is waar kiesers stem vir die politieke party wat hulle in die raadsaal moet verteenwoordig. Die laaste stembrief is groen. Op dié stembrief trek kiesers hul kruisie vir die party wat hulle wil hê moet hulle verteenwoordig in die distriksmunisipaliteit (Waterberg-distriksmunisipaliteit).
  • Maak seker dat die OVK-stempel op al drie stembriewe verskyn.

Related Articles

Back to top button